Local newsNewsNews

Oud-dekaan in farmasie en bekende Potchefstromer los groot voetspore

Prof. Antoon Goossens was die stigterslid, eerste voorsitter en ere-lid van die SA Akademie vir Farmaseutiese Wetenskappe, en ere-lid van die SA Vereniging van Kosmetiese Chemici.

Die voormalige Puk-dekaan en leier op die gebied van Farmasie, prof. Antoon Goossens, is op 87-jarige ouderdom oorlede.

Die volgende is in 2018 deur prof. Goossens vir die Herald geskryf en deur Cornelia Hitge verwerk.

Prof. Goossens is 6 Februarie 1936 in Potchefstroom gebore en het, behalwe vir vyf jaar in Randburg, in Potchefstroom gewoon waar hy 18 Februarie oorlede is.

Hy was in Mooirivier Laerskool en het in 1953 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer.

Prof. Goossens verwerf sy BSc (Farm)-graad in 1959 aan die PU vir CHO en registreer as apteker, en verwerf ‘n honneursgraad in 1961. Na vyf jaar as hoof van die Analitiese Kontrolelaboratorium, wat tendermedisyne vir die Transvaalse Departement van Hospitaaldienste getoets het, het hy in 1966 pos as lektor in Farmasie aan die PU vir CHO aanvaar.

Aan die PU vir CHO verwerf hy die grade MSc (Farm) en DSc (Farm) en doen in 1971 as British Council-beurshouer na-doktorale navorsing aan die Chelsea College of Pharmacy van die Universiteit van Londen. In 1972 word prof. Goossens benoem as die eerste Direkteur van die nuut gestigte Navorsingsinstituut vir Industriële Farmasie en word in 1975 bevorder tot professor en hoof van die departement Farmaseutika en Farmaseutiese Chemie.

Na ‘n jaar as adjunk-dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe word hy verkies as dekaan van die nuut gestigte Fakulteit Farmasie, ‘n pos wat hy vir 10 jaar tot sy aftrede in 1993 beklee. Aan die PU vir CHO was hy lid van die Senaat en die Senaat se Uitvoerende Komitee, die Eregraadkomitee, Beheerrade van die Biblioteek, Buro vir Navorsing, Proefdiersentrum asook die Instituut vir Industriële Farmasie.

Verder was prof. Goossens voorsitter van die komitee vir Sekuriteitsdienste, voorsitter van die Etiekkomitee (Geneeskundig), asook die Tugkomitee vir Studente, en Huisvader van Kasteel Dameskoshuis. In akademiese verband buite die PU vir CHO was prof. Goossens lid van die WNNR se Beurskomitee vir Chemie en Adviespaneellid vir die Nasionale Versnellersentrum, asook sameroeper van die Stigting vir Navorsingsontwikkeling se Keurkomitee vir Farmaseutiese Wetenskappe.

Hy was lid van die Vaktaalburo se Redaksiekomitee vir die Aptekerswoordeboek, lid van die Adviserende Raad op Universiteite en Technikons (AUT) se Kommissie van Ondersoek na Aptekersopleiding, asook lid van die Loodskomitee van die Transvaal School of Public Health, en lid van die American Association of Colleges of Pharmacy. In professionele verband was hy lid en genoot van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika sedert 1959, assessorlid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en lid van die Federation Internationale Pharmaceutique.

Prof. Goossens was die stigterslid, eerste voorsitter en ere-lid van die SA Akademie vir Farmaseutiese Wetenskappe, en ere-lid van die SA Vereniging van Kosmetiese Chemici. Sy grootste bydrae op nasionale vlak was sy lidmaatskap as Minister-benoemde van die Medisyne-Beheerraad (MBR) en die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR). Prof. Goossens was vir 3 jaar president van SAAR, asook lid van die Uitvoerende Komitee en voorsitter van die Onderwys- en Tugkomitee. Van die MBR was hy lid van die Uitvoerende Komitee en voorsitter van die Farmaseutiese en die Medisyne-Beleidskomitee.

Hy was ook lid van die Farmaseutiese Komitee van die Kommissie van Ondersoek na Gesondheidsdienste. Prof. Goossens het ongeveer 12 internasionale kongresse bygewoon en by twee as spreker opgetree en ? verdere 12 besoeke oorsee onderneem, meestal in opdrag van die SA Aptekersraad. Hy het ongeveer twintig artikels in plaaslike en internasionale vaktydskrifte gepubliseer. As burgermaglid in die Regiment Potchefstroomse Universiteit (S.A. Artillerie) vanaf 1954 tot 1978 vorder hy tot tweede-in-bevel met die rang van majoor en ontvang Prof. Antoon Goossens is op 87-jarige ouderdom oorlede. die John Chard-medalje en -dekorasie vir 12 en 20 jaar getroue diens onderskeidelik.

Hy dien ook as assessor in die Potchefstroomse Landdroshof in 1995 tot 1996. Prof. Goossens ontvang in 1997 ‘n ere-toekenning by Potchefstroom Gimnasium vir internasionale akademiese prestasies, en word in 2008 vereer met die toekenning van die graad, Doctor Philosophiae (Honoris Causa), by die Noordwes-Universiteit.

Prof. Antoon Goossens word oorleef deur sy vrou, Bets, met wie hy bykans 63 jaar getroud was, sy twee seuns Anton en Inus, sy dogter Judith, en 8 kleinkinders. Prof. Goossens se roudiens vind Vrydag, 24 Februarie om 11:00 by die NG Gemeente Potchefstroom-Oos op die hoek van Burger-en Lanyonstrate plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button