Local newsNewsNews

Video: Man stap 10 000 kilometer om belangrikheid van grond te verkondig

Op dag 242 van ‘n epise 10 000 kilometer staproete het die Suid-Afrikaanse sakeman, entrepreneur en Save Soil Ambassadeur, Tseke Nkadimeng (45), Potchefstroom op Saterdag, 25 Maart bereik.

Op dag 242 van ‘n epise 10 000 kilometer staproete het die Suid-Afrikaanse sakeman, entrepreneur en Save Soil Ambassadeur, Tseke Nkadimeng (45), Potchefstroom op Saterdag, 25 Maart bereik.

Nkadimeng stap vir die afgelope 8 maande oor al 9 provinsies in Suid-Afrika om die Save Soil-veldtog onder die aandag van Suid-Afrikaners te bring.

Video: Wouter Pienaar

Die doel van sy staptog is om bewustheid onder Suid-Afrikaners te kweek oor die belangrikheid van grond, sowel as hoe om uitgeputte grondgesondheid te verhoog. Musa Skosana en Ustinov “Bimbo” Kgosane begelei Nkadimeng met ‘n Toyota-bakkie as ondersteuningsvoertuig op sy roete.

Tseke Nkadimeng (middel) stap al vir 243 dae om bewusmaking vir grond te verhoog as deel van die Save Soil globale veldtog. Nkadimeng het op Saterdag, 25 Maart in Potch gearriveer. Hier is Musa Skosana en Bimbo Kgosane saam met hom. Foto: Wouter Pienaar.

“Dit is lekker om te sien hoe toeganklik Suid-Afrikaners al op hierdie roete was . My hoofdoel is om bewusmaking te skep sowel as die hoop dat daar oplossings vir voedselskaarsheid is, veral as ons na ons grond omsien. Ons almal het vrugbare grond nodig om te kan oorleef en voedsel te kweek. Goeie kwaliteit grond speel ‘n direkte invloed in die kwaliteit van ons voedsel en hoe dit ons liggaam positief of negatief affekteer,” noem hy.

In Afrika is die gemiddelde organiese inhoud in landbougrond skrikwekkend ver onder 1%.

Die hoofdoel is om ten minste 3,5 miljard mense (60% van die wêreld se kiesers) te inspireer om omgewingsbewuste bestuursbesluite te ondersteun. Dit sal dan nasionale beleidsveranderinge aandryf om die organiese inhoud tot ‘n minimum van 3%-6% te verhoog.

Tseke se stap is geïnspireer deur die Save Soil-stigter, Sadhguru, wat ‘n 100 dae, 30 000 km motorfietsrit alleen deur Europa en Asië van Maart tot Junie in 2022 voltooi het.

Nkadimeng, oorspronklik van Dullstroom, het na jare se soeke na ‘n doel in die lewe, besluit om by die Save Soil beweging betrokke te raak.

“Ons stap daagliks ‘n minimum van 40 km waar ons dan in verskillende dorpe by taxistaanplekke, kantore, dorpsale, winkelsentrums, prominente huise mense nooi om na ons te luister. Indien hulle belangstel kan hulle ‘n Save Soil petisie teken. Ons vat nie finasiele skenkings nie,” noem Nkadimeng.

Volgende op Nkadimeng se reis is dorpe soos Westonaria, Carletonville en Randfontein voordat hy in Pretoria op 1 April 2023 sy laaste tree van hierdie staproete los.

Die roete was ook nie altyd maklik nie aangesien hy al deur ‘n hond gebyt is asook gietende reënbuie en uitputtende hitte moes trotseer.

“Toe ek in Potch kom, toe reën dit lekker hard. Dit is hoekom ek nou hierdie jas aanhet. Ons probeer op die hoofroete bly en nie te veel in residensiële areas te loop nie, weens die feit dat ‘n hond my in Oos-Londen gebyt het,” meen hy.

Om ongeveer 10 000km te loop het ook ‘n sielkundige en fisiese uitdaging. Vir Nkadimeng bied Joga rustigheid en help met die herstel van seer spiere.

“Ek doen Joga elke oggend en gebruik ook verskeie olies vir my spiere,” vertel hy.

Op die ou einde is elke tree vir Nkadimeng ‘n stap nader om hoop en ‘n toekoms vir Suid-Afrikaners te skep sodat generasies nog vorentoe die waarde van grond kan benut.

“Ons is almal saam as een wanneer dit by grond kom. Almal het ‘n verantwoordelikheid om ons grond te beskerm.”

Vir verdere inligting oor hoe om te ondersteun en vennoot van die Save Soil-beweging te wees, kan die webtuiste www.savesoil.org besoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button