Local newsNews

Huis Hebron doen beroep op gemeenskap se hulp

Die organisasie, wat reeds 23 jaar lank bestaan, ontvang geen staatsubsidies nie en maak uitsluitlik staat op die vrygewigheid van skenkers om sy deure oop te hou.

Die niewinsgewende organisasie Huis Hebron, op die plaas Rietfontein buite Potchefstroom, doen ’n dringende beroep op die gemeenskap om te help om kos, skuiling en versorging aan 117 kwesbare inwoners te voorsien.

Die organisasie, wat reeds 23 jaar lank bestaan, ontvang geen staatsubsidies nie en maak uitsluitlik staat op die vrygewigheid van skenkers om sy deure oop te hou.

Volgens Isabel Naudé, wat namens Huis Hebron ’n beroep op die publiek doen, bied die organisasie ’n tuiste aan haweloses, behoeftige bejaardes, mense wat van SASSA-toelaes afhanklik is, asook persone wat met fisieke en kognitiewe uitdagings saamleef.

Vir baie inwoners is Huis Hebron die enigste tuiste wat hulle nog ooit geken het. Benewens basiese versorging word daar ook aandag aan hul emosionele en geestelike welstand gegee.

“Ons wil graag aan ons inwoners die beste moontlike omgewing bied waar hulle veilig en gemaklik kan voel en waar hulle herinneringe van vreugde, liefde en omgee kan skep,” lui die beroep om ondersteuning.

Die organisasie voorsien daagliks drie maaltye aan al 117 inwoners. Vars groente word op die plaas gegroei om in van die inwoners se voedingsbehoeftes te help voorsien. Inwoners neem ook deel aan die groenteverbouing en die klein vark- en hoenderboerdery, wat vaardighede, doelgerigtheid en fisieke welstand bevorder.

Huis Hebron sorg verder vir veilige verblyf en vervoer na en van mediese fasiliteite. Berading en geestelike ondersteuning vorm ook deel van die versorging, met die doel om inwoners se menswaardigheid te herstel en hulle te help om, waar moontlik, weer hul plek in die samelewing in te neem.

Die organisasie se huidige behoeftes sluit finansiële bystand, kos en basiese toiletware in. Produkte soos rys, macaroni, blikkieskos, soppoeier, sout, hawermout, koffie, tee en suiker is dringend nodig, asook vleis, tandepasta, tandeborsels en handewasseep.

Enkelbeddens en matrasse is ook welkom.

Benewens die onmiddellike behoeftes het Huis Hebron ’n groter droom om nog ’n manssaal te bou wat 30 mense kan huisves. Die beoogde uitbreiding sal ook ’n volledige ablusieblok en dreinering insluit.

Die instandhouding van bestaande geboue is nog ’n dringende uitdaging. Die dakke moet geverf word, terwyl die eenhede se binnekant ook aandag benodig. Volgens die organisasie kon hierdie werk weens ’n tekort aan fondse en produkte vir jare nie gedoen word nie.

Huis Hebron se finansiële sake word deur sy rekenmeesters, Danie Rothman, behartig. Die organisasie is tans besig met ’n aansoek om ’n SARS-brief van goeie status en erkenning as ’n openbare weldaadsorganisasie ingevolge Artikel 18A, wat skenkings onderhewig aan die toepaslike vereistes belastingaftrekbaar kan maak.

Die publiek wat Huis Hebron wil ondersteun of meer inligting verlang, kan Isabel Naudé by 063 956 6198 kontak. Besoeke aan die organisasie is ook welkom.

Huis Hebron is op die plaas Rietfontein langs die R54 buite Potchefstroom geleë.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button