Local newsNewsNews

Forensiese ondersoek rondom oortydbetalings van stapel gestuur

"Werkers werk nie altyd op weeksdae nie en oor naweke en vakansiedae is daar skielik baie bedrywigheid om slaggate te vul of gras te sny."

Die JB Marks Munisipaliteit se raad het Dinsdag, 28 Maart ‘n mosie van die DA aanvaar om ‘n forensiese ondersoek rakende oortyd betalings van stapel te stuur. Volgens Chris Hattingh, DA raadslid, is dit ‘n welkome besluit veral in die lig dat oortydbetalings groot rooi vlae gelaat het. Die Herald het in November 2022 berig dat daar in die 2021/22 boekjaar R83 miljoen aan oortydbetalings bestee is.

“Werkers werk nie altyd op weeksdae nie en oor naweke en vakansiedae is daar skielik baie bedrywigheid om slaggate te vul of gras te sny,” noem hy.

Hattingh noem ook dat buitensporige oortydeise en betalings by verskeie geleenthede by die Raad aangemeld is. Hy noem ook dat oortydbetalings na raming in die huidige boekjaar tot R100 miljoen kan beloop.

“Munisipale werkers mag volgens wet nie meer as 40 uur se oortydbetaling per maand ontvang nie,” sê hy.

Alle maandelikse betalings wat in die 20/21, 21/22 en 22/23 boekjare betaal is sal onder die loep kom met dié forensiese ondersoek.

Die DA versoek in die mosie dat die forensiese ondersoek na verskeie stelsels en beleide kyk rakende onwettige oortydbetalings ten opsigte van:

1. Meriete vir die goedkeuring van oortydwerk in teenstelling met werk gedurende normale werksure

2. Die metode van aansoek vir oortydwerk deur werknemers of enige direktoraat.

3. Die gedelegeerde bevoegdhede of bestuursgesag om die werk van oortyd te oorweeg en goed te keur.

4. Die bestuur van alle werk wat die uitvoer en die integriteit van teenprestasie deur werkers waarvoor oortyd gebruik is te verseker.

5. Die maatreëls wat in plek gestel is om te verseker dat munisipale amptenare tydens normale ure werk uitvoer.

Daar word versoek dat die forensiese ondersoek kyk na redes waarom enige goedgekeurde oortyd wat meer is as wat wetlik toegelaat word nie aangemeld is en hoekom daar nie sodanig opgetree is soos voorgeskryf in artikel 32 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuurswet 56 van 2003 nie.

Die besonderhede van amptenare wat oortydbetalings goedgekeur het en diegene wat die aangeteken het, moet ook verskaf word, asook die redes waarom dit die wettige hoeveelhede oorskry het. Daar sal ook na alle stelsels gekyk word wat gedurende die tydperk geïmplementeer is om die misbruik van oortyd en die afwesigheid daarvan te bestuur. Daar word ook vereis dat die forensiese ondersoeker maandeliks aan die Raad met ‘n vorderingsverslag terugvoer oor bevindinge gee.

“Onwettige oortyd het hand uitgeruk en die publiek betaal daarvoor,” meen Hattingh.

Die Herald het die JB Marks Munisipaliteit vir navrae genader maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button