Local newsNewsNews

Erge velkondisie genees

“Toe ek weggeloop het by die robot en hulp kry het alles net in plek geval en verbeter. Dit was ‘n proses, maar toe die doktors en dermatoloë weet wat my probleem is toe kon dit behandel word."

Vir ongeveer 5 jaar was daar ‘n man met ‘n ernstige velkwaal wat handgemaakte kruise by die verkeerslig naby Bult Superspar verkoop het.

Meeste Potchefstromers het geweet van hierdie man wie se letsel bedekte vel so ver as moontlik agter ‘n sonbril en hoed weggeskuil het.

Vier jaar gelede het hierdie man wat op straat gelewe het soos mis voor die son verdwyn. Die ou bekende op die hoek van Chief Albert Luthuli en Peter Mokabastraat was weg.

“Waarheen is hy?” was die vraag op baie padverbruikers se lippe.

Vandag vertel Willie Braak met dankbaarheid oor sy nuwe lewe waar hy ‘n tweede kans danksy uitstekende dokters en geloof gegun is. In sy tyd uit die sonlig, het hy weer sy eie helder lig gevind.

“Toe ek weggeloop het by die robot en hulp kry het alles net in plek geval en verbeter. Dit was ‘n proses, maar toe die doktors en dermatoloë weet wat my probleem is toe kon dit behandel word. Om by die robot te loop was letterlik ‘n draaipunt in my lewe,” vertel Willie.

‘n Plaaslike dokter, dr. Suzanne Mulder, het haar oor hom ontferm. Sy het ‘n dermatoloog in Stellenbosch, dr. Johann de Wet, gevra om vir Willie te help. Dr. Mulder het gedien as die skakel tussen Willie en die bogenoemde dermatoloog rakende sy behandeling wat Pro Bono uitgevoer is.

“Hy was baie gewillig en het ingestem dat ons hom help. Hy was regtig ‘n baie goeie pasiënt,” noem dr. Mulder.

Nadat daar ‘n fisiese ondersoek gedoen is en biopsies geneem is, is Willie met Veralgemeende hiperkeratotiese en verrukose porokeratose gediagnoseer. Dit is ‘n rare velsiekte wat veral met konstante blootstelling aan UV-sonstrale onder andere tot stand kan kom.

Willie se vel vier jaar gelede toe dit vol letsels weens die velsiekte was. Dit het omtrent sy hele lyf bedek.

Na 18 maande se intensiewe behandeling kon daar alreeds ‘n groot verskil gesien word. Meeste van die harde letsels het verdwyn, terwyl daar nog onderliggende merke was.

Daar is ook ‘n mediese navorsingartikel oor Willie se mediese toestand gepubliseer na hy suksesvol behandel is.

“Ek is net so dankbaar vir al die dokters wat my kon help en my met medikasie kon bystaan. Ek het net aanhou bid en dit volgehou. Dit was ongelooflik toe ek die verbetering sien,” noem Willie wat ‘n lang pad saam met dié spesialiste gestap het om die unieke kondisie te kon dokumenteer.

Met tyd en toegewyde behandeling het die harde stukke vel-letsels wat sy lyf van kop tot toon verswelg het, verdwyn. Nou kan hy weer mense in die oë kyk.

“Die velkondisie het my selfvertroue baie geknak omdat ek ook al my hare verloor het, weens die kondisie. Ek kon ook nie my hande gebruik het nie weens die letsels en daarom moes ek aansoek doen vir SASSA Ongeskitheidstoelaag,” vertel hy.

Tans help Willie sy kamermaat met sy besigheid, wat oral in Potchefstroom borde en tekens vir besighede skep.

“Goeie eerlike werk is baie beter as om heeldag in die son te staan,” sê hy.

Willie is ‘n voormalige dwelmverslaafde wat weet dat daardie pad net na ellende lei. Dit is hoekom hy sy lewe reggeruk het en sy hoop op Sy Skepper vestig.

“My geloof in die Here het my deurgedra. Ek het nooit ophou glo dat ek eendag die velkondisie sou oorwin nie. Daar bestaan nie ‘n ding soos ek kan nie. Kannie is dood van kruiwa stoot. Dis eerder ‘n geval van ek gaan en kan, want jy wil.”

Lesers wat vir Willie ‘n donasie in die vorm van geld of ‘n kospakkie wil gee kan hom op 076 544 6474 kontak. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button