Local newsNewsNews

Skeiding van Potchefstroom en Ventersdorp in die pyplyn

Die Munisipale Herafbakeningsraad (MHR) het ‘n proses van stapel gestuur rakende die herafbakening van munisipale grense, insluitend ‘n moontlike skeiding van die J.B. Marks munisipaliteit, om weer twee aparte munisipaliteite vir Potchefstroom en Ventersdorp te vorm.

Die Munisipale Herafbakeningsraad (MHR) het ‘n proses van stapel gestuur rakende die herafbakening van munisipale grense, insluitend ‘n moontlike skeiding van die J.B. Marks munisipaliteit, om weer twee aparte munisipaliteite vir Potchefstroom en Ventersdorp te vorm.

DA raadslid, Hans-Jurie Moolman, noem dat die DA ten gunste is van hierdie proses om die samesmelting te heroorweeg. Moolman het namens die DA in J.B. Marks ‘n geskrewe voorlegging aan die Munisipale Herafbakeningsraad gestuur.

Die Munisipale Herfbakeningsraad sal die geskrewe kommentaar en voorstelle in ag neem en binnekort besluit of daar ‘n openbare deelnameproses gehou sal word. “Voor die samesmelting het die deelnameproses openbare vergaderings behels, so die kans is goed dat dit weer sal gebeur,” voer Moolman aan.

Sedert die samesmelting van die destydse Tlokwe en Ventersdorp munisipaliteite in 2017 is daar ‘n afwaartse spiraal rakende dienslewering. Volgens Moolman is daar geen rede waarom een munisipaliteit oor ‘n geografiese area van 50 km moet saam funksioneer nie.

“Die samesmelting van die twee munisipaliteite het twee onderskeie gemeenskappe die geleentheid ontneem om deur plaaslik verkose leiers regeer te word wat in pas is met die eise en behoeftes van die onderskeie gemeenskappe, wat ‘n logistieke afstand van 50 km uitmekaar is,” meen Moolman.

Hy stel ook in die skrywe dat onreëlmatige, ongemagtigde en vrugtelose en verkwiste uitgawes vinnig toegeneem het sedert die samesmelting.

“Sewe jaar gelede is die samesmelting deur ‘n aanbeveling voorafgegaan om in te gryp en die bestuurskapasiteit van Venterdorp te vergroot. Hierdie aanbeveling is verontagsaam en sodoende het die geografiese verwydering van bestuursvermoëns na Potchefstroom die teenoorgestelde bereik. Die enigste lewensvatbare opsie om te verseker dat die doelwitte soos voorsien in artikel 24 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Afbakening bereik word, is om die twee dorpe af te skei en om te verseker dat beide sy politieke en bestuurstrukture bekwaam is om die munisipaliteite te lei en te bestuur,” skryf Moolman.

 

* Die J.B. Marks munisipaliteit het teen druktyd nog nie op ons navrae gereageer nie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button