NWU beslis dat wiskundevraestel herskryf word
Die vraestel word herskryf op al drie NWU kampusse. Studente wat vir die module ingeskryf het sal op Woensdag, 19 Julie in die tweede semester skryf.

Die ondersoek duur voort rakende eerstejaarstudente van die Noordwes-Universiteit wat vanjaar ‘n gelekte wiskundevraestel gedeel het wat op DInsdag, 13 Junie geskryf moes word.
Daar is wel nuwe verwikkelinge rondom hierdie vraestel, met studente wat weer ‘n geleentheid het om ‘n nuwe vraestel op Woensdag, 19 Julie te skryf.
“Die vraestel word herskryf op al drie NWU kampusse. Studente wat vir die module ingeskryf het sal op Woensdag, 19 Julie in die tweede semester skryf,” het NWU woordvoerder, Louis Jacobs, bevestig.
Daar was groot ongelukkigheid onder studente en ouers toe dit in die lig gekom het dat daar op Vrydag 9 Junie die betrokke wiskundevraestel verkeerdelik by twee van die vyf lokale op die Potchefstroomkampus versprei is. Dié vraestel was die eksamenvraestel wat die studente op Dinsdag, 13 Junie sou skryf.
Nadat die fout agter gekom is, het die toesighouers gevra dat die vraestelle ingehandig word. Sommige studente het nie die vraestel aan die toesighouers terugbesorg soos versoek nie.
Die vraestel is toe met hul medestudente gedeel om vir Dinsdag, 13 Junie se geleentheid voor te berei.
“Akademiese integriteit is ononderhandelbaar vir die NWU. ’n Onafhanklike maatskappy is verantwoordelik vir die verspreiding van alle vraestelle,” het Jacobs verduidelik op ‘n vorige navraag van die Herald.
“Omdat daar soveel aspekte en partye betrokke is by die aangeleentheid, wil ons verseker dat dit met alle omsigtigheid en deursigtigheid hanteer word. Die saak word met erns hanteer, en alle betrokke partye sal oor die uitslag ingelig word. Dit is vir die NWU van kardinale belang dat geen betrokkenes benadeel of bevoordeel word nie,” het Jacobs gestaaf.



