Local newsNewsNews

Video: Ablusiegeriewe by Potch Dam onbruikbaar

Buiten die vuil en gevandaliseerde fasiliteite is daar ook al vuur binne die ablusieblokke gemaak, terwyl spuitnaalde en dooie vlermuise ook al gevind is.

Die agteruitgang van Potchefstroom Dam is al vir lank ‘n groot bekommernis vir Potchefstromers.

Die ablusieblokke is veral ‘n seer oog met gebreekte wasbakke en verstopte toilette wat besoekers noop om eerder hulle besigheid buite hierdie ontspanningsoord te doen.

Video: Wouter Pienaar

Buiten die vuil en gevandaliseerde fasiliteite is daar ook al vuur binne die ablusieblokke gemaak, terwyl spuitnaalde en dooie vlermuise ook al gevind is.

Volgens Werner van Onselen, DA wyksraadslid van wyk 23 waaronder Potch Dam val, is die agteruitgang en vandalisme by Potch Dam kommerwekkend.

Die JB Marks Munisipaliteit het ook nie vanjaar ekstra geld in die 23/24 mediumtermyn begroting vir die opknapping van die Potchefstroom Dam begroot nie. Dit is dieselfde verhaal by die beplande 24/25 en 25/26 boekjare.

Dit blyk uit die projeksie van die 2022/2023, 2023/2024, 2024/2025 begroting dat JB Marks nie enige voorsiening maak vir ‘n inkomste uit die afdeling Sport, Kuns en Kultuur nie. Die begroting vir 2023/2024 is reeds so goedgekeur.

Daar is wel ‘n ligpunt in al hierdie chaos met een van gereelde hengelaars by Potch Dam, Loukie van der Merwe (45), wat saam met Riaan van Wyk van RVW Scrapyard en Emil Pitout van Daly Ford kragte saamspan om een gedeelte van die ablusieblokke op te knap.

Foto’s van hoe die badkamers in een van die ablusieblokke by die Potch Dam lyk (Foto’s: Wouter Pienaar)

“Ons het navraag gerig om toiletgeriewe oor te doen en op te knap. Dit het een dag geneem om een van die blokke net skoon te maak, maar daar kort nog baie werk. Die plan is om algehele herstelwerk te verrig sodat die geriewe weer op standaard is” noem Loukie.

Volgens Loukie, wat ongeveer drie keer per week by die dam hengel, is daar veral oor naweke sedert die Covid-19 pandemie ‘n groot afname in kampeerders en naweekgangers.

‘n Normale weeksdag by die Potch Dam. Besoekersgetalle het drasties sedert Covid-19 afgeneem.

“Daar is omtrent ‘n 80 persent afname, juis omdat die fasiliteite in so toestand is. Mense wil nie hier kamp en visvang en dan nie die geriewe behoorlik kan gebruik nie,” meen Loukie.

Vir meer inligting oor die opknappingsprojek kan Loukie by 072 695 8486 geskakel word.

*Teen druktyd het die JB Marks Munisipaliteit nog nie terugvoer op die Herald se navrae gegee nie. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button