Ferdie-leerder by Retiefstraat-brug aangeval
Tyler, wat gewoonlik saam ‘n vriend stap, was hierdie middag alleen toe die insident plaasgevind het.

Tyler du Plessis, ‘n Gr. 8 Ferdie-leerder, is 23 Augustus ongeveer 15:20 by die Retiefstraat brug aangeval.
Tyler, wat gewoonlik saam ‘n vriend stap, was hierdie middag alleen toe die insident plaasgevind het. “Daar het ‘n man na my toe geloop en my gevra hoe laat dit is. Ek het gesê dat ek nie my foon by my het nie, maar toe ek omdraai om weg te loop het hy my foon in my sak gesien. Hy het my van agter af gestamp en ek het geval.”
Tyler vertel verder dat nog ‘n man opgedaag het.
“Ek het gedink hy gaan die eerste ou help, maar toe trek hy die ou van my af. Nog ‘n man het kom help. ‘n Oom, ek weet nie wie dit was nie, het daar gestop en my huistoe gevat.”
Danksy almal se hulp het Tyler ongedeerd daarvan afgekom, en is sy foon nie gesteel nie.

Tyler se pa, Robert Du Plessis, sê dat Tyler bang is na die aanval.
“Ons het vir hom pepersproei gekoop om by hom te hou sodat hy kan veiliger voel.”

Peter McNamara, Tyler se oupa, is ontsteld oor die voorval. “Daar bly permanent mense in die riete by die rivier wat ‘n groot gevaar is,” sê McNamara.


NW polisiewoordvoerder Kolonel Adele Myburgh vra dat leerders van Hoërskool Ferdinand Postma en HTS Potchefstroom alternatiewelik Holtzhausenweg sal gebruik wanneer hul van die skool af huistoe stap.