Local newsNewsNews

Aardklop-debuut: “Droomwerk” plaas ‘n unieke kollig op herkoms

"Ek weet dat die temas na aan baie Afrikaanssprekendes se harte lê, en hoop dat dit hulle sal aanraak op dieselfde manier wat die stuk vir my aangeraak het." - Pieter Odendaal oor sy drama, "Droomwerk" wat by Aardklop debuteer.

Petrus droom oor sy voorouers in ‘n hospitaal vir geestesiekes.

Sy stammoeder, Diana van Madagaskar, loop op die seebodem terug huis toe. Sy oupa Piet, ‘n apartheidsenator, herleef sy toesprake op sy doodsbed.

Kan Petrus versoening in sy familie bring, of is hy te siek om te onderskei tussen werklikheid en droom?

Dit is een van die vrae wat die digter, Pieter Odendaal, na gehore bring in sy teaterstuk, Droomwerk, wat vanaf 3-8 Oktober by Aardklop in Potchefstroom debuteer.

Droomwerk, is in 2021 met ’n ATKV Woordveertjie vir beste nuwe dramateks bekroon. Die veelbekroonde Kaapse regisseur Kanya Viljoen hanteer die ontwerp en regie, met Lwanda Sindaphi as begeleidende regisseur.

Die rolverdeling lees ewe indrukwekkend: Ben Albertyn, Jill Levenberg, Tyrish Mili, Johann Nel en Johann Vermaak. Droomwerk het vanjaar by die Nasionale Kunstefees in Makhanda gedebuteer, en is oorweldigend positief deur die uitverkoopte gehore en pers ontvang. Die produksie word deur River Mouth Projects in samewerking met Toyota US Woordfees vervaardig.

Die Herald het met Odendaal oor Droomwerk gesels om meer oor hierdie debuutproduksie by Aardklop uit te vind.

“Ek is opgewonde om te sien hoe Afrikaanse gehore dit gaan ontvang, aangesien die stuk by National Arts Festival gedebuteer het – ‘n oorwegend Engelse fees. Ek weet dat die temas na aan baie Afrikaanssprekendes se harte lê, en hoop dat dit hulle sal aanraak op dieselfde manier wat die stuk vir my aangeraak het,” vertel hy,

Droomwerk is gebaseer op Odendaal se verkenning van sy herkoms as ‘n wit Afrikaanssprekende man met slawe voorouers. Die hoofkarakters is losweg gebaseer op die skrywer, sy oupa (‘n apartheidsenator in die 1970s) en sy stammoeder, Diana van Madagaskar, wat in die laat 17de eeu as slavin na die Kaap gebring is.

Odendaal noem dat Droomwerk deel van ‘n vyf jaar proses was waar hy deurlopend die idee in ‘n drama omskep het.

“Ek het in 2018 vir die eerste keer my oupa se apartheidsenaat-toesprake gaan opdiep en begin werk aan die idee. In 2020 tydens Covid-19 het ek tyd gehad om uiteindelik al die idees bymekaar uit te bring, maar as gevolg van die pandemie het dit ook lank gevat om befondsers en speelvlakke te kry om uiteindelik die stuk feeste toe te vat,” sê hy.

Buiten sy vaardigheid as digter en dramaturg is Odendaal ook ‘n skryfkunsdosent aan die NWU en geniet hy dit met jongmense te werk wat ook self skryf. Dit inspireer hom ook gereeld om verder aan sy eie tekste te werk.

“Dramatekste het hul eie vereistes en voordele wat jy nie in ander genres kry nie. Die teenwoordigheid van die gehoor, die sentraliteit van dialoog en die feit dat met lewende wesens op houtvloere werk is van die unieke eienskappe wat ‘n mens in gedagte moet hou as jy ‘n dramateks aanpak,” verduidelik Odendaal.

Odendaal glo dat Droomwerk kykers ook kan aanspoor om dieper in hul eie stambome te ondersoek en dat dit nuwe ontedekkings sal meebring.

“Ek glo dat dit (Droomwerk) belangrike aspekte van ons kollektiewe psige ondersoek en hopelik mense kan aanspoor om dieper in hul eie familiegeskiedenis te delf.”

Droomwerk speel by Momentum Beleggings Aardklop Kunstefees van 3-6 Oktober by Potch Girls’High. Kaartjies kan op Ticketpro aangekoop word.

Genre: Drama

Taal: Afrikaans, Engels, isiXhosa

Gradering: Geen o.18 (T/G/D/N)

Tydsduur: 70 min

Venue: Girls High

Datum en tyd: 3 Okt 9:30, 4, 5, 6 Okt 16:00

Kaartjies: R190, R170 (Aardklop Hartsvriende, Pensioenarisse), R50 (Studente)

*Odendaal is ’n digter, dramaturg, vertaler en samesteller. Sy debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is in 2019 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Hy was vroeër die uitvoerende direkteur van InZync Poetry op Stellenbosch en het onlangs sy doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Queensland University of Technology in Brisbane behaal. Hy doseer tans Skryfkuns by NWU in Potchefstroom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button