Local newsNewsNews

Uit Piet se Pen: Die ordentlike vark

"Ek vra toe hoekom die vark ‘n houtbeen het en die boer vertel dat dit ‘n besondere vark is."

Ons sit weer die laatmiddag daar in ons kuierplek. Dis nou ek en ander Piet en Hennie en ons lê weg aan ‘n heerlike gekrummelde vark tjop, so om die laatmiddag vroegaand holkolletjie effe op te vul.

Stap daar ‘n vreemdeling in. Jy herken ‘n vreemdeling sommer maklik uit. Lyk gewoonlik effe ontuis maar nie die een nie. Duidelik ‘n reisiger met baie myle agter die blad. Hy nooi hom self om daar aan ons tafel te kom sit en bestel iets te drinke.

Ander Piet wil beleefd wees en vra of hy nie wil saam eet nie. Dalk ook ‘n vark tjoppie? Hy sê beslis nie vark nie, nooit weer vark na daardie dag nie.

Hennie, altyd nuuskierig, vra toe wat dan daardie dag gebeur en die man vertel:

“Ek is ‘n vryskutverteenwoordiger, verkoop omtrent alles onder die son en besoek ook boere om voer en mieliemeel en veemedisyne te smous.

Ek kom nou die anderdag op ‘n plaas aan en daar stap ‘n vark met houtbeen rond: regterboud weg.

Ek vra toe hoekom die vark ‘n houtbeen het en die boer vertel dat dit ‘n besondere vark is.

Hierdie vark, sê hy, het eendag saam met my vrou in die groentetuin gestap waar sy tamaties wou pluk toe ‘n rinkhals agter haar bakkop maak. Hierdie vark, sê hy, het die slang onderstebo gespring en met een hap middeldeur gebyt. “Maar hoekom het die vark ‘n houtbeen ?” wil ek weet.

Laat ek jou vertel, sê die boer. My seun van drie het weggedwaal van die huis af en ons het gesoek en gesoek maar kon geen spoor kry nie. Toe het hierdie vark die volgende dag die spoor gekry, die spoor tot in die rante daar oorkant gevolg en op ‘n manier vir seun op sy rug gelaai en hom huistoe gebring.

“Maar hoekom het die vark ‘n houtbeen?” wil ek weer weet.

Laat ek jou vertel sê die boer. Hierdie vark is ‘n ordentlike vark. Ons waghonde het een aand gaan rondloop en toe het hierdie vark al om die huis loop en patrolleer. Hy het selfs probeer blaf maar sy hondetaal was nog nie so op standaard nie. Jy moet hom nou hoor. “Blaf vark!” beveel hy maar nes ‘n stout kind wat nie die nuwe rympie vir Oupa wil opsê nie, bly die vark stil.

“Hoekom het die vark ‘n houtbeen?” vra ek weer.

Laat ek jou vertel, sê die boer, my dogtertjie het gegly en in die spruit geval. Hierdie vark het ingespring, haar aan die kleertjies beetgekry en met haar kant toe geswem tot waar die water vlak genoeg was vir hom om te staan en toe het hy haar met die snoet teen die wal opgestoot, haar liggies aan die hand gevat en haar huistoe gebring.

“Maar hoekom het die vark ‘n houtbeen?” wil ek weet.

“’n Mens eet nie so ‘n ordentlike vark met een slag op nie!”

Ek sien hoe ander Piet sy vurk met die stukkie tjop neersit en die tjoppie op my bord lyk ook nie meer so lekker nie.

“Jong”, sê ander Piet, “dit klink vir my so al of hier ‘n saak van dieremishandeling kan wees”

Die man sê daar is nie sprake van mishandeling nie. As die been afgeloop is, sit die boer net weer ‘n langer stuk hout aan.

Ja, sê ander Piet, en as hulle nou weer lus raak vir varkvleis, wat dan?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button