Local newsNewsNews

Video: Aardklop vier fees in vuurwarm Potchefstroom

“Ek twyfel nie, ek wéét ons het mense se lewens verryk. My beker loop oor. Dankie aan elke liewe mens wat hiertoe bygedrae het!"

Daar is ‘n hele paar woorde om Momentum Beleggings Aardklop 2023 vanaf 3-8 Oktober te beklemtoom.

“Feestelik”, “Fantasties” “Vreugdevol””Verrykend”, “Meesterlik” en “Lekker” was wat in oorvloed gebruik is.

Dankbaarheid het ook uit die direksie se harte gestroom oor die positiewe ervaring wat uit die feesterrein, talle produksies, boek en aktuele gesprekke geput is.

Musiek en visuele kunste was van hoogstaande gehalte, terwyl die verskeie koservaringe nooit feesgangers honger gelaat het nie.

“Dit is lekker om Aardklop weer in hul volle glorie terug in Potchefstroom te hê op die NWU se gronde en fasiliteite. Die belangrike rol wat die kunste speel in ons samelewing moet nie onderskat word nie. Die ontdekkingsreis waarop elke stuk die kyker neem help om ons te transformeer en te ontwikkel. Dit is vir die NWU ’n voorreg om Aardklop op ons gronde te huisves en ons is ook dankbaar vir die geleentheid wat dit vir onder andere kunstenaars en ons eie studente ook skep,” noem Jean-Marc Stidworthy, hoof van bemarking en studentewerwing by die NWU-Potchefstroomkampus.

Teatersale was vol met gehore wat positief reageer het op die inhoud en bywoningsverwagtinge is oortref. Daar is gelag, gehuil, geskok, geroer en geïnspireer.

Aardklop Hartsvriend Hantie Krüger het die volgende bedanking aan Aardklop gestuur:

“Baie dankie uit my diepste hart vir jul sprankelende program en bydrae om die wêreld ’n beter plek te maak. My verlies is dat daar doodseker nog puik produksies is waarby ek nie uitgekom het nie.”

Die feesterrein en -verhoog het daagliks duisende feesgangers gelok. Kunstenaars soos Anton Goosen, Fatman, Janie Bay, Corlea Botha, Brendan Peyper en Early B het die gehoor behoorlik aan die dans en kuier gehad.

“Ek wil vir Alexa en haar uitnemende span bedank vir wat hulle met baie min vermag het. Hulle toewyding was oral opgemerk en dit word deur almal raakgesien,” noem Heinricha Hodgson: Aardklop-direksielid

“Die produksies, pret en plesier van die afeglope week in Potchefstroom is bewyse dat Aardklop terug is na sy beste,” meen Prof Daryl Balia: Aardklop-direksielid

“Harde werk en fyn beplanning is van die faktore wat bygedra het tot vanjaar se Aardklop. Ons hartlike gelukwensing aan Alexa en haar span vir ’n uitstekende aanbieding. En dankie aan almal wat bygewoon en bygedra het tot ’n suksesvolle geleentheid,” Francois Strydom: Aardklop-direksielid verder.

Alexa Strachan, Hoof uitvoerende beampte, Momentum Beleggings Aardklop, was oorstelp oor die sukses van hierdie fees vanjaar in sy volledigheid in Potchefstroom.

“Wanneer jy maar opgee om by die terreinverhoog ’n vriendin te gaan groet omdat jy besef daar is te veel mense wat toustaan vir selfies, heel agter moet gaan sitplek soek vir Alfred Adriaan, vasloop in diepgeraakte borge, stoere boere tydens Nataniël se verskyning hoor së “O wow”, teatergangers hoor kla want hulle sukkel om hul skedules uit te werk omdat hulle álles wil bywoon, weet jy: Aardklop loop soos stroop!”

Die gehalte van die program, die netheid van die feesterrein, die glimlaggende stalletjieshouers en ma’s wat smeek vir “asseblief nog net vyf minute vir my kind” by die speelarea het ook opgeval.

“Ek twyfel nie, ek wéét ons het mense se lewens verryk. My beker loop oor. Dankie aan elke liewe mens wat hiertoe bygedrae het!”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button