Finansiële kenners deel hul wenke oor welvaart
PJ en Geo Botha, finansiële kenners en bekende mede-aanbieders van kykNET se gewilde program, Welvaartskeppers, was onlangs in Potchefstroom om meer oor hulle nuwe boek "Word Ryk, Bly Ryk" en die inhoud daarvan te deel.
PJ en Geo Botha, finansiële kenners en bekende mede-aanbieders van kykNET se gewilde program, Welvaartskeppers, was onlangs in Potchefstroom tydens Aardklop om meer oor hulle nuwe boek Word Ryk, Bly Ryk te deel.
Hierdie twee finansiële beplanners het saam onder leiding van Nadine Petrick tydens ʼn aktuele boekgesprek by die Roots Sonkamer op Saterdag, 7 Oktober vir feesgangers en belangstellendes vertel hoe om finansieel te kan floreer.
In hierdie boek is daar verskeie afdelings wat op ‘n praktiese manier na verskeie gevallestudies kyk rondom suksesvolle aftrede, pensioen, beleggings, trusts, testamente en hoe om ‘n finansiële nalatenskap te los.
Die twee broers het verskeie antwoorde vir talle vrae gehad en hulle ingeligte opinies met goeie voorbeelde gestaaf.
“’n Bekende spreekwoord lui dat die beste besluit is om ‘n boom 20 jaar terug te plant. Die tweede beste besluit is om dit nou te doen. Daar is geen beter tyd as nou nie. Stel doelwitte, beplan en hou by daardie plan,” was van die ingeligte advies wat gedeel is.
Kortom gaan dit noukeurige beplanning verg om ryk te word en ryk te word, en gaan dit nie oornag gebeur nie. Dissipline, tyd en geduld is die wagwoorde. Jy hoef ook nie noodwendig jou eie besigheid te begin om welvaart te skep nie.
“Voor jy in iets belê, moet jy ook weet waarheen jou geld gaan. Spaar is korttermyn, terwyl beleggings langtermynvoordele inhou. Om te belê is om die saad te plant,” noem PJ.

Volgens Geo is dit belangrik dat besigheidseienaars weet wat in besighede aangaan en moet persoonlike finansies ook so ‘n besigheid bestuur word.
“Nog ‘n belangrike aspek waaroor ons in die boek ook praat is “home ground advantage”. Dit is makliker om te weet wat in jou industrie aangaan. Sodoende is dit ook makliker om te floreer in ‘n spasie wat jy beter verstaan. Fokus op jou area en ken jou mense. Jou teikenmark is die mense wat soos jy dink,” voer Geo aan.
Nog ‘n wenk wat die broers deel is dat uitstel meeste van die tyd tot afstel lei.
“Baie mense stel uit om te spaar en wag vir ‘n sekere hoeveelheid geld of finansiële inspuiting voordat hulle geld wegsit. Dit is belangrik om dadelik te doen en nie uit te stel nie. Hannes Strydom (oud-Springbok) is ‘n goeie voorbeeld van ‘n besigheidsman wat nie wag dat goed gebeur nie. Suksesvolle mense hande take dadelik af,” vertel Geo.
Geo en PJ het ook oor die belangrikheid van boedebeplanning gesels en hoe dit ‘n groot impak het oor hoe welvaart ook van generasie na generasie oorgedra word.
“Dit is belangrik om oor finansies te kan praat en van jongs af te weet hoe om met geld te kan werk.”






