Kranige dienaar van Christus word onthou
"Rus sag, liewe Christiaan. Ek sien jou in my geestesoog: Kitaar in die hand op Jesus se skoot.”
Christiaan Labuschagne is op Vrydag, 29 September oorlede na hy tydens ‘n interskole jeugkamp glo weens ‘n pulmonere embolisme inmekaargesak het.
Mense wat vir Christiaan geken het, het genoem watter rol hy in hul lewens gespeel het:
Pieter Jordaan, een van die aanbiddingsleiers by Duet, noem dat hy vir Christiaan onthou as iemand wat ‘n voorbeeld vir elke man, pa en volgeling van Christus was.
“Sy liefde vir sy gesin en vriende was duidelik sigbaar in alles wat hy gedoen het. Hy sou altyd ‘n seënwens toebid vir mense om hom en was altyd bereid om te help. Geen taak was ooit vir hom te veel nie en hy was hardwerkend. Ek het hom leer ken by Duet en by die tienerbediening baie jare terug. Hy het altyd ‘n manier gehad om vreugde in ‘n plek in te bring. Hetsy dit die manier is hoe hy dans en juig tydens aanbidding, of sommer net ‘n snaakse grappie te vertel om ‘n etenstafel. Hy het diep spore getrap in al sy kringe en ons almal gaan hom geweldig baie mis,” vertel Jordaan.
Volgens Hilde Roos, saam met wie Christiaan saam vir die afgelope dekade en ‘n half, aanbidding gelei het, was sy lewe ‘n skadubeeld van Jesus.
“Hy was ook, soos Moses, ‘n vriend wat aangesig tot aangesig met Jesus ontmoet het, en altyd begeer het om meer van Hom te sien en te hoor. Christiaan was selfs op aarde ‘n onderwyser en skrynwerker soos ‘n skadubeeld van sy hemelse Vriend. Aardse ambisie het nie plek in sy lewe gehad nie en sy stem en musiek was in diens van die Here. Deur die laaste vyftien jaar het ek hom sien groei, nie net as sanger en kitaarspeler en aanbiddingsleier nie, maar ook as gelowige. Hy het soos beloof word in die Skrif al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.”
Nicolene Smalman, was boesemvriende met Christiaan in Gimmies en noem dat vining deel van hul gesin geraak het. Volgens haar hy het hy ‘n massiewe rol in haar vormingsjare gespeel.
Ek en Christiaan het in gr. 10 (die ou standerd 8) net gekliek en was soos kettie en klip. Ons het ons diepste geheime en vrese met mekaar gedeel – in die fynste detail en sonder vooroordeel. Ons het pouses briefies in mekaar se hande geprop wat ons die vorige aand op tydskrifbladsye geskryf het met prentjies wat vir ons mooi was.”
Nicolene onthou hoe hul het gegaan het vir karamelmelkskommels en peperment crisp tert by Fiori op die Bult en mekaar leer dans vir die Valentynsbal.
“Christiaan se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en ʼn lui haar was daar nie op sy kop nie. Hy het op hoërskool soggens Beeld afgelewer vir ʼn sakgeldjie en CD-rakkies uit hout gemaak wat hy by die Lenteskou verkoop het. My pa het hom ingespan vir opknappingswerk aan ons huis en hy het hom verkyk aan Christiaan wat sommer koponderstebo ʼn spyker met sy linkerhand kon inslaan.
Christiaan se menswees was geanker in sy geloof. Ons het in gr. 11 belydenis van geloof afgelê in twee van die drie susterskerke en mekaar s’n bygewoon. In matriek is Christiaan na die Elgro-kerk, vandag bekend as die Duet-gemeente en dit is hier waar hy ʼn ware passie vir lofprysing ontwikkel het.
Hy het homself geleer kitaar gespeel en was nog altyd geseën met ʼn mooi sangstem. Hy het liedjies gesing vir die vrou wat hy nog nie ontmoet het nie, maar ook vir die Vader wat hom geskep het.
Nicolene onthou ook hoe hy sy toekomstige vrou ontmoet het en hoe seker hy was dat sy, sy trouvrou was. “Ons het hard studeer en ewe hard gespeel en vakansies het Christiaan oorsee gaan werk om sy studies te kon finansier
Hy het betrokke geraak by sendingwerk en uiteindelik sy toekomstige vrou, Marinda Els, ontmoet. Toe ek hom vra of Marinda sy trouvrou is, was sy antwoord: “Duh! Duidelik!” Hulle het ‘n sprokiestroue gehad in Clarens en ‘n pragtige gesin saam begin. Christiaan was my vertroueling. Ons kontak het minder geraak soos wat hy sy gesin uitgebrei het en ek op my loopbaan gefokus was. My liefde vir hom het egter nie verdoof nie en ek het met geweldige skok van sy afsterwe kennis geneem. Hy was in my lewe vir ‘n seisoen. Dit was egter die belangrikste seisoen – die lente. Vir ‘n beter vriend in my vormingsjare kon ek nie vra nie. Rus sag, liewe Christiaan. Ek sien jou in my geestesoog: Kitaar in die hand op Jesus se skoot.”
Hier is ‘n video van sy lewensvereringsdiens:



