Kanana is geen Kanaän as gevolg van rioollek
Simon Kondile se kleinsuster het haar been gebreek toe sy die riool probeer vermy.
Simon Kondile, ‘n Kanana inwoner in Ikageng wyk 4, 5372 Tshedimosetso-straat, vertel dat daar al vir twee maande riool oor hul erf stroom.
Johan Zerwick, DA wyksraadslid van wyk 4, wys na ‘n selfgemaakte sloot wat teen die grens van die erf loop. “Hulle het Hierdie sloot self gemaak om sodoende die riool te kanaliseer uit die erf uit sodat dit nie oor die hele erf stroom nie,” vertel Johan.

Johan sê verder dat ‘n kind hul been gebreek het toe hul oor die lopende riool probeer spring het. “Dit was my kleinsuster,” beaam Simon terwyl hy moedeloos na die riool staar.

Riool-stank hang verstikkend in die lug terywl Johan die probleem uiteensit. “Die stadsraad besoek die lek gereeld en stel vas dat daar ‘n verstopping is, maar kom nooit terug om herstelwerk te doen nie,” verduidelik Johan. “Wanneer verstoppings deur lappe of iets soortgelyks veroorsaak word, kan rods gebruik word om die verstopping te verwyder. Wanneer die stadsraad sien dat dit ‘n verstopping is wat hul nie so kan oplos nie of dat dit ‘n gebreekte pyp is, los hul dit net.” Verder sê Johan dat ‘n verstopping tydig gehanteer moet word, anders moet die pype opgegrawe word om herstelwerk te doen.

Elizabeth Danisa, Simon se buurvrou, vertel dat sy ook geaffekteer word deur die verstoppings wat riool-oorlope veroorsaak. Sy wys na ‘n drein in haar agterplaas en sê dat wanneer die riool opstoot, loop dit oor haar hele erf.

Johan verduidelik dat die riool in ‘n stroom loop deur ‘n oop stuk veld en verby ‘n begrafplaas waar dit uiteindelik onder ‘n brug inloop. “Die begrafplaas is toegemaak as gevolg van die riool. Hier kan nie meer mense begrawe word nie omdat die riool deur die begraafplaas stroom.” Johan sê buiten die besoedeling wat dit veroorsaak in die omgewing, verhoed dit ook ontwikkeling op die oop stuk grond.
“Ek hoop net dit kom reg. Ons kan nie so aangaan nie,” sluit Simon af terwyl hy ontsteld na riool wys wat by hul erf uitstroom.
*Die munisipaliteit kon nie vir kommentaar bereik word nie.



