Somergees by die Molen Kórus Kamerkoorfees
Die jaarlikse Molen Kórus Kamerkoorfees is al ‘n instelling op Potchefstromers se konsertkalender en hierdie jaar kan gehore na vertonings deur vier kamerkore van regoor die binneland uitsien.
Wanneer die eikelaan se akkerbome in hul heldergroen gewaad die koms van die somer aankondig, beteken dit net een ding: Potchefstroom se “groen koor”, Molen Kórus, hou weer konsert.
Die jaarlikse Molen Kórus Kamerkoorfees is al ‘n instelling op Potchefstromers se konsertkalender en hierdie jaar kan gehore na vertonings deur vier kamerkore van regoor die binneland uitsien.
Molen Kórus sal hierdie jaar die verhoog met die Ruach Kamerkoor van Klerksdorp onder leiding van Stephen Taljaard, Alumni Voices van Bloemfontein onder leiding van Leona Geldenhuys (‘n koor wat hoofsaaklik uit oudlede van die UVS Koor bestaan) en die 4Forty Chamber Choir van Johannesburg onder leiding van Siegfried Pretsch deel.
Met ‘n veelsydige program beloof die Kamerkoorfees om iets vir elke koorliefhebber te bied.
Elkeen van die kore beskik oor ‘n unieke klank en repertoire.
Die gehoor kan dus klassieke koormusiek, romantiese koormusiek en ook meer kontemporêre werke te wagte wees.
Dit is nie elke dag dat mens die geleentheid kry om soveel plaaslike kore van uitstaande gehalte op een verhoog te sien nie en Molen Kórus nooi elke Potchefstromer uit om hierdie Kamerkoorfees te kom geniet.
Die konsert vind op Saterdag 11 November om 18:00 by die NG Kerk Potchefstroom-Noord (Dwarsstraat 21) plaas en kaartjies kos R100 per person. Kaartjies is aanlyn by Quicket, sowel as by die deur beskikbaar.
In hierdie feestelike luim, kan individue wat graag by Molen Kórus wil aansluit ook nou reeds ‘n oudisie bespreek.
Oudisies vir nuwe lede vind hierdie jaar op 15 & 16 November in Potchefstroom plaas.
Meer inligting is op die koor se Instagram-en Facebook-blaaie beskikbaar (@molenkorus), of stuur ‘n e-pos na molenkorus@gmail.com.





