Student maak opspraak in wetenskapwêreld
'n Meestersgraad-student aan die NWU het 'n indrukwekkende toekenning ontvang na 'n jaar se toegewyde navorsing.
Chandra Le Roux, ‘n student aan die NWU wat tans besig is met haar meestersgraad in water-navorsing, het ‘n toekenning gekry vir die beste MSc presentasie by NRF-SAIAB se studente simposium.
Chandra het glad nie verwag om die toekenning te ontvang nie, maar is opgewonde vir wat die toekenning vir haar toekoms beteken. “Ek het glad nie verwag dat ek dit gaan wen nie,” sê Chandra. “Ek het goed gevoel en ek weet dat my presentasie goed verloop het, maar ek sal nie sê die selfversekerheid was daar nie.”
“SAIAB en NRF is ‘n instituut wat beurse gee. By die simposium moet jy aanbied wat jy deur die jaar gedoen het. Jy moet vir hulle wys wat jy met hulle geld gedoen het,” lag Chandra. “Jy kry die geleentheid om te wys hoe jy vorder, wat nog oor is in jou projek, watter resultate jy gekry het, en ook hoe jou navorsing tot wetenskap bygedra het.”
Chandra verduidelik dat beide studente en toesighouers, of dan senior wetenskaplikes, stem vir die beste presentasie. “Ek het ver gewen,” lag Chandra. “Die toekenning beteken dat ek weer befondsing sal kry vir volgende jaar, dalk ook PhD befondsing,” vertel Chandra. “Met elke prys wat jy wen kan jy dit op jou CV sit wat dit makliker maak vir ‘n werksgeleentheid, nuwe beurs, meer projekte en om internasionale konferensies by te woon waar jy jou navorsing gaan oordra.”
Chandra voltooi volgende jaar haar meestersgraad aan die op die Puk. “Ek het hierdie jaar die marine-deel afgehandel en volgende jaar sal ek die varswater-deel aanpak. My navorsing fokus op bloedparasiete in marine- en varswater, asook suiers wat moontlik die organisme is wat dit oordra aan die visse. My volgende projek sal wees om te sien of die bloedparasiete ‘n negatiewe invloed op die visse het.”

Die uitblinker sien uit vir haar toekoms en hoop om ‘n groot impak te maak op die waternavorsings-veld.



