Local newsNewsNews

Momentum Aardklop 2025 bied 17 opwindende debutwerke aan

Momentum Aardklop 2025 spog met 17 unieke debutewerke wat toneel, musiek, kinderteater en visuele kuns insluit. Van huldeblyke aan groot name tot splinternuwe stories en uitstallings.

Momentum Aardklop, waarvan die program onlangs bekendgestel is, het vanjaar ’n stewige aanbod van 17 debute, waarvan 11 verhoogproduksies (hetsy musiek of toneel) en ses uitstallings van visuele kuns is.

 

Verhoogproduksies

 

Momentum Aardklop bring vanjaar hulde aan twee ontslape groot name in die SA kunste, naamlik Athol Fugard (met ’n Afrikaanse weergawe van Boesman en Lena) en Breyten Breytenbach (met Belofte van vere, ’n musiek- en woordkuns-aanbieding met o.a. Eben Genis, Rolanda Marais en Ilse Klink).

Nog ’n debuut-teaterstuk by vanjaar se fees is Vier seisoene kind. Die welbekende aktrise Je-Ani Swiegelaar van Binnelanders-faam speel die karakter Lee-Monet Verloren van Themaat. Dié is ’n voormalige kinderster wat op die randjie van 40 staan – en besef “haar akteursloopbaan is so stowwerig soos ’n grondpad ná jare se droogte”, aldus die programbeskrywing. Dit volg die reis van ’n vrou wat haar middeljare met ontnugtering maar dan ook herontdekking betree. Luan Jacobs is die regisseur en hy en Swiegelaar het die teks saam geskep.

Wat debute betref, is daar ook iets vir die kleingoed. Baksie Beer en die poeiermuise is ’n prettige opvolg op die suksesvolle Fliep-flappers. Hierdie splinternuwe kindertoneelstuk is propvol avontuur, komedie, musiek en dans uit die pen van die ervare Liena van der Merwe, wat al vir meer as 20 jaar opvoedkundige kinderteater na  feeste toe bring.

 

Musiek en woordkuns

 

Die bekende en bekroonde pianis Charl du Plessis is betrokke by twee debuutmusiekproduksies by vanjaar se Aardklop. In Charl se surf & turf stel hy  feesgangers op ’n insiggewende, sjarmante en soms humoristiese manier bekend aan twee uiteenlopende ensembles – The Scullery Quintet en die kunstenaars van die produksie Ethereal Voices: Voice, Keys and Wind – wat elk ’n verkorte weergawe van 20 tot 30 minute aanbied uit hul volledige konserte wat ook deel van die feesprogram is.

Dan is hy en Nataniël ook saam te sien in NATANIËL + CHARL = 25, waarmee hulle ’n kwarteeu se samewerking op die verhoog vier. Hulle het al letterlik duisende optredes saam gedoen – konserte as sanger en begeleier, 62 oorspronklike verhoogproduksies, asook projekte met kore, orkeste en van die land se talentvolste musikante. Met dié produksie kyk hulle terug op hierdie hoogs suksesvolle vennootskap, en bring ook splinternuwe stories, musiek en kostuums in twee galakonserte na Aardklop.

 

 

 

Gepraat van gala-konserte – die NWU Skool vir Musiek bied met trots Potchpourri aan. Dié gewilde jaarlikse Potchefstroomse variété-konsert is vanjaar vir die heel eerste keer by Aardklop te sien. In hierdie dinamiese uitvoering word die elegansie van klassieke instrumentale werke, die drama van opera, die flair van musiekteater en ’n ruim skeut humor saamgevoeg.

Wat debute van klassieke musiek betref, is daar ook The Drop that Contained the Sea, en The Scullery Quintet: Stir-fried Sonatas. Eersgenoemde se titel kom van ’n Soefi-konsep: Nes elke druppel water die essensie van die see bevat, bevat elke mens die essensie van die hele mensdom. Kom verken water in sy verskeie vorme en in verskillende tale – van Xhosa tot Portugees. In Stir-fried Sonatas speel dié bekroonde kwintet splinternuwe, oorspronklike verwerkings van klassieke, jazz- en popmusiek, met hope improvisasie en unieke kontemporêre musikale temas. Hul besondere aanslag maak die konsert toeganklik vir alle ouderdomsgroepe.

Wat kontemporêre musiek betref, het Pietman Geldenhuys en Luna Paige as kunstenaars geen bekendstelling nodig nie. Dié twee bring ook debuutproduksies na Aardklop. Pietman Geldenhuys vertel al stories sedert kindsbeen. In Jy sal my nie glo nie deel hy stories en musiek wat spruit uit sy ervarings en absurditeite van jare saam met musikante en storievertellers op die langpad.

In Die reisigers ondersoek Luna Paige ook reis, maar van ’n esoteriese aard. Sy sing oor die “groot reis” en die immer ontwykende eindbestemming. Sy verken ruimtes waar beweging, stilte van gees, selfliefde en aanvaarding harmonie bring. Sy stel gehore bekend aan die musiek wat sy tydens haar Suid-Afrikaanse en Europese reise, onder meer die Spaanse Camino, geskryf en by die huis getoonset het.

 

Visuele kunste

 

’n Kunstefees is nie ’n ware kunste fees sonder, wel, kuns nie. Wat die aanbod van visuele kuns betref, het die feeskurator, MC Roodt, ses debuut-uitstallings van uiteenlopende kunstenaars ingesluit.

Kutlwano Monyai se Absolute Stillness is hekelwerk soos jy dit nog nooit gesien het nie. Hierdie uitstalling verken die toestand van stilte te midde van chaos en verandering. Absolute stilte ontstaan wanneer jy besef die liggaam kan tot op breekpunt weerstand bied, en dat emosies en die siel onrustig bly sonder die genesende aard van stilte. Wanneer ’n mens hekel, skep jy nie net estetiese of huishoudelike produkte nie – jy verrig ’n spirituele daad wat liggaam, siel en gees betrek. Dié uitstalling is ’n taktiele en spirituele ondersoek na stilte te midde van chaos, waar hekel en kleurgebruik dien as genesende praktyk en ’n visuele taal vir emosionele verweefdheid, balans en innerlike vrede.

Op sy beurt ondersoek Jaco van Schalkwyk se Corpus Naturae (“die liggaam van die natuur”) ook verweefdheid – in dié geval tussen menslike identiteit en die natuurlike wêreld. Dit plaas die fokus spesifiek op liggame wat dikwels as anders beskou word – queer, sagte en nie-konformerende liggame – en belig hul inherente plek binne die natuur.

Met Hallusinasies van die Vaal besin Rhett Martyn oor ervarings wat nie eerstehands beleef is nie, maar deur ander dokumentasie betree word. Gefragmenteerde aanlyn beelde wat temas van onderdompeling, eensaamheid en landskap suggereer, dien as vertrekpunt. Die werke is drie keer bemiddel – deur iemand anders se ervaring, die visuele vaslegging daarvan, en uiteindelik die herinterpretasie op papier. Die tekeninge nooi die kyker om verby die oppervlak te kyk en dieper, psigologiese landskappe te verken wat steeds in die kollektiewe bewussyn voortleef.

So die titel Ashes to Ashes suggereer, fokus dié uitstalling van Donavan Mynhardt op verganklikheid. Ongeag geslag, ras, sosiale status, geloof of politieke ideologie, die een kernwaarheid van die mens is dat almal sterf. Ons is terselfdertyd gefassineer en beangs deur ons eie afsterwe. “This exhibition does not seek to glorify death, but rather to prompt reflection on life,” skryf Mynhardt in die programnota. “Death humbles us. The afterlife intrigues us. It makes us kinder, more empathetic, and perhaps most importantly – equal – even if only for a moment.”

Omgekeerd en Vice Versa is twee uitstallings wat ’n dinamiese groep kunstenaars byeenbring met ’n reeks eksperimentele werke, om die beginsel van fisieke of emosionele beweging metafories te ondersoek. Die uitstallings sluit ’n variasie van nuwe en tradisionele media, installasie, rolprentkuns en AR (augmented reality) in.

 

Besoek aardklop.co.za vir meer inligting en die volledige feesprogram. Kaartjies vir Momentum Aardklop 2025 word vanjaar deur Webtickets verkoop.

 

Webblad: aardklop.co.za

Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees

Instagram: @aardklopkunstefees

X: @AardklopFees

#DieKunsVanFees

Navrae: alexa@aardklop.co.za en cindy@aardklop.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button