Potchefstromer se kunswerk in Londen te sien
’n Potchefstroomse kunstenaar maak golwe in Londen met haar treffende kunswerk Asphyxia, wat deel is van die uitstalling Routines by die Firepit Art Gallery.
’n Plaaslike kunstenaar van Potchefstroom se skildery kan tans by ’n internasionale uitstalling in Londen gesien word.
Jonel Scholtz is boonop die enigste deelnemer van buite die Verenigde Koninkryk.
Die uitstalling, getiteld “Routines”, het op 19 Julie by die Firepit Art Gallery geopen en duur tot 20 September. Dit word in samewerking met die gesogte Bickerton Gallery, onder leiding van kurator Anne-Marie Bickerton aangebied.
“Anne-Marie het my werk op Instagram raakgesien en my later genooi om by haar galery uit te stal. Toe die tema vir die nuwe uitstalling aangekondig is, het sy my weer genader om werke in te stuur,” vertel Scholtz.
Die uitstalling fokus op die tema van roetine, hoe dit ons vorm, beperk of selfs bevry. Kunstenaars moes hul interpretasie van dié konsep visueel wys. Scholtz se werk, Asphyxia, is gekies om deel te wees van die groep van 29 deelnemers.
Asphyxia, wat “versmoring” beteken, is ’n diep simboliese stuk. “Ek moes uitbeeld of roetine in die allerdaagse lewe my inperk en of ek chaos verkies en dit my kreatiwiteit voed. Vir my voel roetine soos iets wat my elke dag versmoor dit ontneem my die vermoë om asem te haal. Ek leef om te skep,” sê sy.
Op die kunswerk is ‘n meisie met ‘n blinddoek afgebeeld, haar vingers verwurg deur voëltjies wat daaraan vasgemaak is. “Die voëltjies simboliseer my kreatiwiteit dit is wat keer dat ek heeltemal versmoor. Die meisie wil nie sien hoe die wêreld en sy verwagtinge haar verwurg nie; sy is in ontkenning, maar beur steeds voort.”



