AfriForum Jeug leer studente selfverdediging
Studente van die NWU se Potchefstroomkampus het waardevolle veiligheids- en selfverdedigingsopleiding tydens AfriForum Jeug se Veiligheid 101-werksessie ontvang.
AfriForum Jeug se Puk-tak het verlede week ’n Veiligheid 101-werksessie vir 15 studente op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus aangebied. Die inisiatief het ten doel gehad om studente toe te rus met noodsaaklike veiligheidsvaardighede en praktiese kennis om te voorkom dat hulle slagoffers van misdaad word.
Veiligheid is een van AfriForum Jeug se kernfokusareas, en volgens die organisasie is dit noodsaaklik dat jongmense weet hoe om te reageer wanneer hulle in gevaarlike of ongewenste situasies beland.
Die werksessie het teoretiese sowel as praktiese elemente ingesluit. In die teoretiese gedeelte is studente oor omgewingsbewustheid geleer. Hoe om verdagte gedrag of situasies raak te sien en hoe om korrek daarop te reageer. ’n Vraag-en-antwoordsessie het dit moontlik gemaak om werklike scenario’s te bespreek en oplossings te vind.
Die praktiese gedeelte het gefokus op selfverdedigingstegnieke, insluitend hoe om uit ’n ontvoerder se greep te ontsnap en hoe om ’n mes of vuurwapen by ’n aanvaller af te vat. Die afrigters het egter beklemtoon dat hierdie tegnieke slegs in uiterste noodsituasies gebruik moet word en dat dit altyd veiliger is om hulp te ontbied.
Vir Jemma Heidmann, ’n student wat die sessie bygewoon het, was die opleiding van groot waarde. “Ek verkies dit om ’n plan te hê en dit dalk nooit te gebruik nie, eerder as om geen plan te hê nie en later te wens ek kon iets gedoen het,” het sy gesê.
Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum en fasiliteerder van die sessie, het die belangrikheid van die opleiding beklemtoon: “Universiteitskampusse raak al hoe meer onveilig. Dit is noodsaaklik dat studente verantwoordelikheid neem vir hul eie veiligheid en voorbereid is. Veiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid, maar dit begin by jouself.”
AfriForum Jeug se Puk-tak beplan reeds ’n opvolgsessie en hoop om meer studente daar te verwelkom. Die organisasie moedig studente aan om die geleentheid aan te gryp en in hul eie veiligheid te belê.



