Local newsNewsNews

Riool, bloed en afval vloei deur erwe

Die riool probleem in Nieuwe- en Beyers Naudéstraat teister inwoners al vir jare.

Bloed en wat moontlik hoenderafval kan wees het onlangs in erwe in Nieuwe- en Beyers Naudéstraat saam met riool begin uitloop. Hierdie rioolprobleem word al sedert 2017 by die munisipaliteit aangemeld.

Alhoewel dit amper ‘n daaglikse probleem is, word dit net erger met die reënseisoen.

Die Herald het in November 2024 ‘n besoek by ‘n Dokterspraktyk in Beyers Naudéstraat afgelê waar die riool opstoot en dan oorvloei in die erf agter in Nieuwestraat.

Verskeie raadslede en Afriforum was teen daardie tyd reeds betrokke en het die probleem telkens aangemeld. Navraag is in daardie stadium deur die Herald ook aan die munisipaliteit gerig en geen terugvoer is ontvang nie.

Tessa van der Berg, wat in Nieuwestraat woon, is al moedeloos met die situasie.

“Ek moes al slote in my erf grawe net om die riool weg te lei. Dit brand my gras dood, my honde raak siek en ek het ‘n gestremde tienerseun wat lief is vir tuinmaak, so dit is baie moeilik om hom uit die tuin te hou. Ons kan weens die reuk en gesondheidsrisiko nie eers meer ons vensters of deure oopmaak nie,” vertel sy.

Tessa was self vir twee weke bedlêend siek weens die rioolprobleem. Met die onlangse reën, het die meeste bloed en hoendervelle weggespoel, maar die reën vererger die rioolvloei.

Volgens Tessa en Sylvia Kruger, een van die eienaars van die praktyk, pomp die munisipaliteit die rioollyn skoon, maar dit doen niks aan die werklike probleem nie.

Heinricha Hodgson, DA-raadslid van die wyk, het ook al als in haar vermoë gedoen om die situasie te probeer uitsorteer.

“Wat ook telkens gebeur is dat wanneer die riool sak, bly daar opdrifsels en selfs toiletpapier agter in die mense se erwe. Hulle moet dan self betaal vir sanitasie want die munisipaliteit doen ook niks daaromtrent nie. Ek wil al huil as dit reën want dan begin die riool asook kragprobleme onmiddellik. Dis regtig belaglik,” het sy laasjaar aan die Herald vertel.

Tot op hede is daar nog geen terugvoer van die munisipaliteit oor die probleem ontvang nie.

Die riool tans in Tessa se erf.
Slote wat Tessa moes grawe om die riool weg te lei.
Riool soos dit by Tessa se erf uitspoel.
Riool soos dit in die straat afspoel.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button