Strafbare manslag-verhoor vir vertoë uitgestel
Die saak is in 2022 weer op die rol geplaas nadat ’n nuwe ooggetuie na vore gekom het.
Die saak van twee klagtes van strafbare manslag teen Gideon Borstlap (38), is vandag vir die sewende keer in die Potchefstroom-landdroshof vir vertoë tot en met 28 November uitgestel.
Sivenathi Gunya, kommunikasiebeampte vir die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die saak is uitgestel sodat Borstlap vertoë aan die nasionale direkteur van die openbare vervolgingsgesag kan rig.
“Vertoë is ‘n formele skriftelike versoek, of argumente wat deur die beskuldigde persoon of sy verteenwoordiger/prokureurs aan die vervolgingspan gemaak word om besluite soos die terugtrekking van aanklagte.”
Gideon Borstlap (38) het kort ná die ongeluk in 2019, waarin Kobus Huyser (28) en Niel Grobler (19) dood is, vir die eerste keer in die hof verskyn.
Die ongeluk het op Donderdag 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 op die hoek van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat naby die gholfbaan plaasgevind. Die twee vriende was op pad huis toe, toe Borstlap se voertuig glo met hulle s’n gebots het. Albei slagoffers is op die toneel dood.
In 2020 is die saak van die rol geskrap nadat die vervolgingspan geoordeel het dat daar nie ’n onafhanklike ooggetuie was wat die saak suksesvol kon ondersteun nie. Borstlap is intussen op borgtog vrygelaat.
Die ondersoek het nie daar doodgeloop nie. Die polisie het ’n beroep op die publiek gedoen om met enige inligting vorendag te kom.
Dié oproep het in 2022 vrugte afgewerp toe ’n nuwe ooggetuie na vore gekom en ’n verklaring afgelê het. Die saak is toe weer aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) voorgelê wat besluit het om die saak weer op die hofrol te plaas.



