Local newsNewsNews

Potchefstroom se studentebehuising onder die vergrootglas

Onwettige en nie-nakomende studentebehuising bly ’n toenemende bron van kommer in Potchefstroom.

Onwettige en nie-nakomende studentebehuising bly ’n toenemende bron van kommer in Potchefstroom, met ernstige implikasies vir munisipale infrastruktuur, openbare veiligheid en ordelike dorpsontwikkeling.

Die Herald het verlede week (5 Februarie) berig dat ontwikkeling wat nie aan regulasies voldoen nie, infrastruktuur en openbare veiligheid belemmer. Die kwessie, wat reeds vir maande onder inwoners en rolspelers broei, sentreer rondom gesinshuise wat sonder behoorlike goedkeurings omskep word in oorvol studentekoshuise.

Die JB Marks Munisipaliteit het op navrae gereageer en beaam dat dit ‘n groot kwessie is waaraan dringend aandag gegee moet word.

Volgens Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, is die munisipaliteit deur middel van hul Departement van Huishoudelike Beplanning en Ontwikkeling, daarvan bewus dat verskeie nie-nakomende studentebehuisings tans in Potchefstroom bedryf word.

“Hierdie situasie wek ernstige kommer oor studenteveiligheid, gesondheidstandaarde en ordelike stedelike ontwikkeling,” sê Tshite.

Sy doen ’n dringende beroep op alle operateurs van nie-nakomende studentebehuising om hulle onmiddellik by die munisipaliteit se dorpsbeplanningseenheid aan te meld vir registrasie.

“Selfs eienaars wat onseker is oor hul nakomingstatus word versoek om hul dokumentasie te laat verifieer en enige uitstaande goedkeurings of soneringskwessies reg te stel,” sê sy.

Tshite waarsku dat inspeksies en afdwingingsprosesse in gebiede met hoë konsentrasies van studentebehuising verskerp sal word.

“Die veiligheid van studente en die ordelike ontwikkeling van die dorp bly ’n prioriteit. Die munisipaliteit doen ’n beroep op alle belanghebbendes om proaktief saam te werk om hierdie kwessies dringend aan te spreek.”

Volgens inligting wat aan die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit voorgelê is, word bestaande woonhuise in sekere woonbuurte vir veel meer bewoners gebruik as waarvoor dit oorspronklik ontwerp is. Hierdie oorbevolking plaas groot druk op riool-, water- en elektrisiteitsnetwerke, terwyl daar ook kommer is oor die afwesigheid van noodsaaklike veiligheidsen okkupasiesertifikate.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het bevestig dat die regulering en afdwinging van sonerings- en bouregulasies uitsluitlik binne die mandaat van die plaaslike munisipaliteit val. Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, is die universiteit wel in gesprek met die JB Marks-stadsbeplanningsdepartement om samewerking en belyning tussen rolspelers te bevorder.

Hy verduidelik dat soneringskwessies deur die munisipaliteit gemonitor en afgedwing moet word, en nie deur die universiteit nie. Jacobs voeg by dat ’n soneringsertifikaat tans deel vorm van die opsionele dokumentasie vir studentebehuisingakkreditasie, maar dat dit vanaf die volgende akkreditasiesiklus ’n verpligte vereiste sal wees.

“Die doel is om diensverskaffers betyds in kennis te stel, sodat hulle hul sake kan regstel en aan die vereistes kan voldoen,” sê hy.

Jacobs beklemtoon verder dat alle aangeleenthede rakende goedgekeurde bouplanne, gesondheids- en veiligheidsnakoming en munisipale regulasies streng binne die jurisdiksie van die plaaslike owerheid val.

Intussen het die munisipaliteit ’n beroep gedoen op alle eienaars en bedrywers van studentebehuising om hul eiendomme dringend te registreer en dat hulle aan alle toepaslike munisipale verordeninge en bouregulasies voldoen.

Studentebehuising vereistes Eiendomme wat as studentebehuising gebruik word, moet aan verskeie wetlike en veiligheidsvereistes voldoen, insluitend:

  • Korrekte sonering ingevolge SPLUMA en plaaslike dorpsbeplanning
  • Goedgekeurde bouplanne
  • Geldige okkupasiesertifikaat
  • Brandveiligheidsnakoming en nooduitgange
  • Geldige elektriese sertifikaat
  • Nakoming van gesondheids- en munisipale verordeninge

Nie-nakoming kan lei tot afdwingingsaksies deur die munisipaliteit en moontlike verlies aan universiteitsakkreditasie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button