Lojale polisiekaptein sluit loopbaan af na 40 jaar se toewyding en diensbaarheid
Kaptein Hannes Greyling het na 40 jaar in die polisie uitgetree. Vir hom was dit belangrik om op grondvlak te dien en met sy kennis 'n verskil te maak.
Baie jong seuntjies se droom is om ’n polisieman te word. Vir Kaptein Hannes Greyling was dit vir dekades lank ’n roeping.
Ná 40 jaar van onbaatsugtige diens aan die SAPD het dié bekende gesig van Potchefstroom aan die einde van Januarie amptelik uitgetree.
“Ek wou nog altyd ’n polisieman wees. Ek is geroep om buite te werk en mense te help, eerder as om in ’n kantoor te sit. Daar was nog nooit ’n ander opsie nie. My pa, dr. Christo Greyling, het my altyd ondersteun, maar wou eers hê dat ek universiteit toe moes gaan. Ek is baie dankbaar daarvoor.”
Greyling, ’n oud leerder van Baillie Park en Potchefstroom Gimnasium, het kriminologie aan die PUK (NWU) studeer en tydens sy studentejare reeds as reservis gedien.
“Vanaf 1985 het ek uniform gedra en in 1987 is ek na die polisiekollege in Pretoria,” verduidelik Greyling.
Greyling was werksaam in misdaadintelligensie, waar hy spesifiek met polisieberiggewers gewerk het rondom die verkryging van inligting. Hy was ook deel van die reaksionêre afdeling, waar hy kort ná die 1994-verkiesing in Rustenburg by arrestasies betrokke was.
Greyling word veral op provinsiale vlak vir sy werk in die dwelmtaakspan vereer.

“Van my intelligensiedae het ek oorgegaan na die uniformafdeling, veral rondom die hantering van gyselaars, en dit was my groot passie. Ons destydse provinsiale bevelvoerder het groot kommer oor dwelms in die provinsie gehad. Generaal-majoor (Dr) Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale kommissaris in Noordwes, het my voorgestel en ek kon toe ’n span saamstel om in Noordwes te werk.”
“Die grootste probleem is nie die hoeveelheid polisielede in ons land nie, maar die toewyding waarmee hull hul werk doen. Ek is dankbaar vir die span wat ek gehad het. Hulle het die ekstra myl gestap.”

Greyling en sy span sou talle kere hofverskynings bywoon en kort daarna die tyd gebruik om nóg dwelmarrestasies uit te voer.
As gyselaaronderhandelaar word Greyling ook hoog geag vir sy doeltreffendheid en die wyse waarop hy in stresvolle situasies kommunikeer.
“Jy moet soms 02:00 jou foon antwoord en ’n toneel bywoon. Dit is verskriklik stresvol en die uitkoms bly in die Here se hande. Dit is nie dat ons altyd bankrowe kry nie – 90% van die tyd is dit mense wat selfmoord wil pleeg. Waar drank en dwelms betrokke is, is dit baie moeilik omdat mense irrasioneel op daardie stadium is,” noem hy.
Greyling was onder meer op die toneel tydens die Marikana-slagting in 2012 en het talle selfmoordpogings verhoed. Een van sy mees onvergeetlike oomblikke was toe hy ’n student telefonies van die Stormsrivierbrug afgepraat het terwyl hy in Potchefstroom was.
“Die student het haar tannie in Potchefstroom geskakel en op daardie stadium was ons by die tannie om te kyk of ons leidrade oor haar (die student) verdwyning kon kry. Toe sy bel, het ek die foon by haar tannie geneem. Ek kon haar op die lyn hou totdat die blitspatrollie van Port Elizabeth kon opdaag. Dit het nogal ’n impak op my gemaak, omdat dit ’n lang gesprek was,” noem hy.
Greyling vertel trots dat sy laaste vier gyselaarsake voor sy aftrede suksesvol geëindig het, wat dien as klinklare bewys van sy taktiese beplanning. Sy loopbaan is op gepaste wyse op ’n hoogtepunt afgesluit toe hy in sy laaste week as polisieman ’n groot arrestasie kon uitvoer.
’n Polisieman se doeltreffendheid word egter nie net aan arrestasies gemeet nie. Volgens Greyling was dit belangrik in ’n studentedorp om jong mense, en studente veral, in te lig oor die gevare van dwelms.
“Baie keer sou ons met die ouers gesels as ons by informante hoor dat daar moontlik dwelms by hul kinders betrokke is. Ons het baie goeie resultate gehad, met families wat dankbaar was vir ons rol in die rehabilitasieproses.”
Een van die staaltjies wat Greyling altyd sal bybly, is die keer toe hy sy eie worshond as ’n “polisiehond” ingespan het by ’n student se woning om beweerde dwelms op te spoor.
“Ek het vir die honde-eenheid gewag. Hulle was toe besig en toe besluit ek om my worshond te gaan haal. Ek het vir die student gesê dit is sy keuse om saam te werk of nie. Die student het toe besluit om en sy samewerking te gee en het vrywillig die dwelms oorhandig,” vertel Greyling met ’n glimlag.
Hoewel Greyling nou uitsien na rus en visvang, is die kaptein nog nie heeltemal klaar met sy gemeenskap nie. Hy beplan om steeds betrokke te wees by misdaadvoorkoming en praatjies by skole, terwyl hy ook sy kundigheid aan sekuriteitsmaatskappye beskikbaar stel.

Naidoo, waarnemende provinsiale kommissaris in Noordwes.

“Ek het ’n goeie verhouding met die sekuriteitsmaatskappye en as iets op die radar verskyn, sal ek kan help. Vir nou gaan ek dit so rustig moontlik vat. Daar is egter nog baie hofsake wat voorlê voordat ek finaal klaar is.”
Diensbare polisielede soos Kaptein Hannes Greyling word nie onder klippe uitgehaal nie – hy laat ‘n nalatenskap van lojaliteit en onwrikbare toewyding na.



