Van ’n kombersrekord tot Rocking the Vaal: Hoe ’n gemeenskap ’n fees gebou het
Dié fees vind vanjaar weer op Saterdag, 11 April plaas met van die land se grootste kunstenaars op een verhoog.
Wat begin het as ’n eenvoudige gemeenskapsprojek, het oor die jare ontwikkel tot een van die Vaaldriehoek se bekendste feeste.
Rocking the Vaal, wat jaarliks by Emerald Resort & Casino plaasvind, het sy wortels in ’n projek wat jare gelede die gemeenskap bymekaar gebring het om saam iets besonders te skep.
Dié fees vind vanjaar weer op Saterdag, 11 April plaas met van die land se grootste kunstenaars op een verhoog.
Die begin van hierdie reis kan teruggevoer word na ’n Guinness Wêreldrekordpoging vir die langste gehekelde kombers, ’n projek wat deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC) geïnisieer is.
Inwoners van regoor die Vaal het blokkies gehekel wat later saamgevoeg is tot ’n rekordbrekende kombers – ’n simboliese projek wat gewys het hoe kragtig gemeenskapsamewerking kan wees.
Daardie sukses het die saad geplant vir iets groter. Met tyd het die idee ontstaan om gemeenskapsdeelname, musiek en kos saam te bring in een groot gebeurtenis. Só het Rocking the Vaal begin groei tot ’n fees waar mense nie net kom luister na musiek nie, maar self deel word van die ervaring.
Volgens Marinda Human, bemarkingsbestuurder by Emerald Resort & Casino, was dit van die begin af duidelik dat Emerald graag deel wou wees van die projek.
“Toe Jaco Verwey van die Golden Triangle Chamber of Commerce met ons kom gesels het oor die idee om hande te vat en die projek saam te ontwikkel, was dit eintlik ’n voor die hand liggende besluit,” sê sy.
“Ons het dadelik besef dat dit iets is waaraan ons graag betrokke wil wees, omdat dit nie net oor ’n fees gaan nie, maar oor ’n geleentheid wat die hele gemeenskap saambring.”
Oor die jare het Rocking the Vaal bekend geraak vir sy kreatiewe Guinness Wêreldrekordpogings wat mense direk betrek. In 2025 het die fees drie nuwe Guinness Wêreldrekords opgestel: die grootste pot pap (2 334 kg), die grootste bediening kebabvleis van drie kilometer lank en die meeste mense wat terselfdertyd brood gebreek het. Hierdie projekte het duisende mense laat deelneem en die Vaal-gemeenskap internasionaal onder die kollig geplaas.
Intussen het die fees ook gegroei tot ’n belangrike musiekgeleentheid waar van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars op een verhoog optree. Kunstenaars soos Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Heuwels Fantasties en Refentse trek jaarliks groot skares na die Vaal.

Met Rocking the Vaal 2026, wat op 11 April plaasvind, bou die organiseerders weer voort op hierdie tradisie van deelname en samewerking. Vanjaar beplan hulle twee nuwe Guinness Wêreldrekordpogings – ’n poging om die meeste pannekoek nog ooit te maak, asook ’n indrukwekkende 3 000 kg pot Chilli Con Carne.

Vir die organiseerders bly die doel egter eenvoudig: om mense bymekaar te bring. Wat begin het met ’n kombers wat deur baie hande gehekel is, het gegroei tot ’n fees waar duisende mense saam musiek vier, kos deel en wys wat ’n gemeenskap kan bereik wanneer almal saamwerk.
*Maak seker jy kry jou kaartjies en hou die sosiale media-platforms dop om te sien hoe jy deel kan word van hierdie unieke ervaring. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa. Indien jy wil deelneem of as borg betrokke wil raak, stuur ’n e-pos aan Sandy by admin@gtcoc.org.za.
*Rocking the Vaal word georganiseer deur die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC), in samewerking met Emerald Resort & Casino, wat as gasheer van die geleentheid optree.



