NWU-student sterf skielik
Die kantoor van Student Life sal beradingsessies vir studente wat by die betrokke akkommodasie woon, reël.
Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus rou oor die afsterwe van ’n student, Tshediso Panuel Khomo. Hy is Vrydag, 27 Maart, skielik oorlede.
Khomo was ’n student in BA Openbare Bestuur met Publieke Administrasie en Sosiale Studies op die Potchefstroom kampus.
Die Potchefstroom Studentekampusraad het in ’n kennisgewing aan studente gesê sy afsterwe is ’n groot verlies vir die kampusgemeenskap.
“Tshediso se afsterwe is ’n diep verlies vir ons kampusgemeenskap en sy teenwoordigheid sal baie gemis word,” lui die kennisgewing.
Volgens Louis Jacobs het die universiteit reeds stappe gedoen om studente te ondersteun wat deur die nuus geraak word.
“Die universiteit is bewus van die afsterwe van ’n student aan die Potchefstroomkampus. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie, vriende en medestudente in hierdie moeilike tyd,” het Jacobs gesê.
Studente wat ondersteuning benodig, word aangemoedig om van die universiteit se Studentevoorligting en -ontwikkeling (VBO)-dienste gebruik te maak.
Die universiteit het studente ook aangemoedig om mekaar in hierdie tyd van rou te ondersteun terwyl die kampusgemeenskap Khomo se lewe en nalatenskap onthou.



