SportSport

NWU laat skare jubel met terugvegpoging in rillerstryd teen Ikeys

Dit was kliphard, skouspelagtig en hoogs vermaaklik met die NWU wat met 'n 56-53 sege teen Ikeys, hul onoorwonne rekord tuis in vanjaar se Varsitybeker voortsit.

Die NWU Eagles het met ’n verstommende terugvegpoging en ’n drie in die 76ste minuut ’n 56-53-sege teen Ikeys op die Fanie du Toit-sportgronde in die Varsitybeker behaal.

In ’n rillerstryd wat enige span kon wen, het die NWU-losskakel, MJ Mostert, vanaf die plaasvervangerbank gaan druk om sy span die oorwinning en ’n tuis-halfeindstryd teen Maties komende Maandag te besorg.

NWU se speler van die wedstryd, MJ Mostert op die aanval. Foto: Tian du Preez

Dit was ’n dolk in Ikeys se hart nadat hulle op ’n stadium gelyk het of hulle die NWU sou troef en ’n plek in die halfeindstryd kon behaal, veral nadat hulle met 39-20 teen halftyd voorgeloop het. Nou is hulle as verdedigende kampioene uit die toernooi.

NWU kaptein, Stephan Krugel op die aanval.

Dit was ’n absolute driefees met 16 drieë wat op die aand gedruk is, met die NWU wat nege keer druk en Ikeys wat sewe van hul eie aanteken.

Ikeys het die eerste drie van die wedstryd gedruk, met die losskakel Alex Vermeulen wat ’n gaping sien en binne die eerste minuut oorduik. Kort daarna is die NWU-heelagter, Luan van der Walt, oor ná ’n skitterende lynskop van die nommer 10, Ruan van Willing. Sy skop het Luyolo Doyi gevind, wat die bal vang en blitsvinnig vir Van der Walt uit die lug aangee om af te rond.

Die Universiteit van Kaapstad se Ikeys het weer beheer oorgeneem en die wedstryd verder oorheers, met hul agterlyn wat die NWU se verdediging getoets het. Drieë deur Eric Basson en Monray Daars het hul voorsprong na 23-5 vergroot. Dit het ook nie gehelp dat die NWU drie geel kaarte gekry het nie.

Die Ikey-Tiere se buitesenter, Kian Davis, het die NWU-skare stilgemaak met ’n drie onder die pale om ’n 32-8-voorsprong te gee.

Logan Janeke het ná sy geelkaart, met twee drieë net voor rustyd, seker gemaak dat die NWU met ’n bietjie momentum in die kleedkamer ingaan.

Die Eagles was soos ’n ander span in die tweede helfte en het dadelik hul vuur gevind toe Jordan McLoughlin, Alethwa Buthelezi en Zack Serfontein druk om die telling na 39-37 te vernou.

NWU hoofafrigter, Burger van der Westhuizen is verlig na sy span Ikeys getroef het. Foto: Wouter Pienaar.
Ikeys se hoofafrigter, Robbie Fleck en NWU afrigter, Burger van der Westhuizen groet mekaar na die wedstryd. Foto: Wouter Pienaar

Ikeys het nie teruggestaan nie, met Amahle Mazibuko wat ná ’n rolmaalbeweging oor is om die telling na 46-37 in die guns van die besoekers te skuif. Van Willing is ná ’n harde duikslag van die veld af, met Basson wat met ’n rooi kaart afgestuur is. Dit was een van die draaipunte in hierdie wedstryd wat sonder twyfel die beste wedstryd van die toernooi sover is.

Met ‘n spelervoordeel kon die NWU hoop om ’n wonderwerk te verrig met omtrent 25 minute se speeltyd oor.

Mostert het sy eerste drie gaan druk voordat Gary Otto na ‘n sterk skrum oor is. Die skrum was een van die NWU se groot pluspunte op die aand. Ikeys se Setshaba Mokoena druk om sy span weer voor te laat loop, maar op die ou einde het Mostert, ’n oud-KHS-leerder, die laaste sê gehad.

By die NWU se kleedkamers staan daar in groot letters “BELIEVE” – dit is presies wat die span vandag op die veld bewys het, sodat hul weer volgende week op die Fanie in die halfeindstryd is.

Maties sit volgende hul voete in Potch en die NWU sal hul tuisgrond met alle mening verdedig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button