Potch-skaaktalent skuif hul weg na wêreldtoernooie
Dit is opmerklik dat bykans al die deelnemers se skaakwortels by Laerskool Mooirivier begin het.
Plaaslike skaakspelers het onlangs gewys dat hulle van die land se beste breinkrag besit tydens die South African Junior Closed Chess Championships (SAJCCC). Agt spelers van Potchefstroom het vanaf 28 Maart tot 2 April by die Kgaswane Country Lodge in Rustenburg teen die land se elite meegeding, met skitterende resultate wat nasionale titels en internasionale uitnodigings insluit.
Die groot uitblinker van die toernooi was Dewald Coetsee, ’n matriekleerder aan Potchefstroom Gimnasium. Hy het die o18-ope-afdeling oorheers en is amptelik as die 2026 SA o18-Skaakkampioen gekroon.

Hierdie oorwinning is die hoogtepunt van meer as ’n dekade se harde werk en deursettingsvermoë. Dewald het nou die eer om Suid-Afrika vanaf 14 tot 27 Junie by die FIDE World Youth Chess Championships in Montesilvano, Italië, te verteenwoordig.
Nog twee plaaslike spelers het hul plek op die wêreldverhoog bespreek.

Ettienne van Meersbergen (Potchefstroom Gimnasium): Hierdie graad 9-leerder het ’n 10de plek in die strawwe o16-afdeling behaal. Hy het sy SA Skaakfederasie-klere verwerf en sal Suid-Afrika in Mei by die African Youth Chess Championship in Uganda verteenwoordig.
Philip Gouws (Laerskool Mooirivier): Hierdie graad 4-leerling het gewys dat ouderdom net ’n getal is deur onder die top-10 in die o10-ope-afdeling te eindig. Hy pak op 16 Mei sy tasse vir die Commonwealth Chess Championship in Sri Lanka.

Die o20-afdeling het ook ’n suksesverhaal opgelewer in Michael Berndt. Michael, wat tans in Potchefstroom werk, het eers op 15-jarige ouderdom ernstig begin speel nadat hy homself met aanlyn-tutoriale geleer het. Hy het as naaswenner in die o20-afdeling uit die stryd getree.
Ander plaaslike deelnemers wat Potch se naam hoog gehou het is Rohann Scholtz (o14) van Hoërskool Gimnasium, Heinrich Fouché (o18) van Hoër Volkskool Potchefstroom, en Albert van Zyl (o12), Christiaan Gouws (o14) en Imke Scholtz (o12-meisies) van Laerskool Mooirivier.

Dit is opmerklik dat bykans al die deelnemers hul skaakwortels by Laerskool Mooirivier het, hetsy as huidige leerders of oud-Tokkies. Dit beklemtoon die sterk skaaktradisie wat oor jare in Potchefstroom opgebou is.



