Potch-finalis se hart klop vir diere én modelwerk
Wanneer sy nie op die verhoog of by ’n diereskuiling is nie, geniet Mia dit om te swem en hokkie te speel.
Glans, selfvertroue en ’n hart vir die gemeenskap. Dit is presies wat deelnemers aan die jaarlikse Face of Potchefstroomkompetisie hoop om uit te leef. Die gewilde model- en skoonheidskompetisie, wat in 2021 deur JannyDjan Events begin is, het vinnig gegroei tot ’n hoogtepunt op die plaaslike kalender en bied jaarliks aan jong talent uit die Noordwes-provinsie ’n platform om hul drome na te jaag.
Die groot eindronde vind vanjaar op 11 April by Snowflake in Potchefstroom plaas, waar deelnemers nie net hul modeltalent sal wys nie, maar ook hul betrokkenheid by gemeenskapsprojekte. Agter die kompetisie staan Janet Potgieter, die dinamiese dryfkrag agter die JannyDjan-handelsmerk vir toneelspel, modelwerk en skoonheidskompetisies in Potchefstroom. Met haar agtergrond in die vermaaklikheidsbedryf en haar passie om ander te bemagtig, het sy ’n platform geskep waar jong mense kan groei, selfvertroue bou en terselfdertyd ’n verskil maak.
Sedert die eerste kompetisie het dit ’n glansryke jaarlikse geleentheid geword met deelnemers van regoor Noordwes. Twee jaar gelede is die Face of North West-titel ook bygevoeg om nóg meer aspirant-modelle die kans te gee om deel te neem.
Die kompetisie bestaan uit twee afdelings, Runway Modelling en Pageantry, vir mans en vroue in verskillende ouderdomsgroepe. Daar is ook beginneren gevorderde kategorieë, wat beteken dat nuwelinge nie noodwendig teen ervare deelnemers hoef mee te ding nie.
Onder die finaliste is Mia Coertzen (17), ’n graad 11-leerder van Potchefstroom High School for Girls, wat beide ’n modelwerk én skoonheidskompetisie-finalis is. Mia vertel sy is sedert die begin van verlede jaar deel van die JannyDjan-modelagentskap en het besluit om vir die kompetisie in te skryf omdat sy nuwe mense wou ontmoet en haar vaardighede verder wou ontwikkel.
“Ek het ingeskryf omdat ek nuwe mense wou ontmoet en my vaardighede wou verbeter. By die agentskap het ek al ongelooflik baie geleer en ek kan na ander modelle opkyk en by hulle leer,” sê sy
Maar vir Mia gaan die kompetisie oor meer as net die loopplank. Sy het 7 April, haar tyd by PAWS Haven deurgebring waar sy honde gaan stap het, hokke skoongemaak en diere gevoer het. Sy vertel dat sy voor die kompetisie nie eens bewus was van die Matlosana Animal Shelter, die agentskap se gekose liefdadigheidsorganisasie nie, ’n saak wat nou baie na aan haar hart lê.
“Mense besef nie watter groot verskil donasies aan sulke instansies maak nie. Elke bedrag wat inkom beteken nog ’n kombers, kos, bakke of selfs nuwe hokke,” sê Mia.
Wanneer sy nie op die verhoog of by ’n diereskuiling is nie, geniet Mia dit om te swem en hokkie te speel. Vir haar bly die grootste hoogtepunt van die kompetisie egter die mense wat sy langs die pad ontmoet het.
“My gunsteling deel tot dusver is al die nuwe vriende wat ek gemaak het en al die bande wat ek gebou het,” vertel sy.
Jy het nog kans om vir Mia te stem. Meer inligting oor hoe om te stem is op Face of Potchefstroom/ NorthWest se Facebookblad beskikbaar.



