Local newsNewsNews

Omgee ken geen perke vir dié dinamiese duo nie

In ’n wêreld waar mense maklik wag vir iemand anders om op te tree, het hierdie paartjie gewys verandering begin by jou eie voordeur.

In Miederpark woon ’n paartjie wie se lewensverhaal nie net inspireer nie, maar ’n hele buurt se toekoms help vorm. Bok en Nelie Jordaan van Springbokstraat, is deur verskeie inwoners benoem as Inspirasie van die Week en dis nie moeilik om te verstaan hoekom nie.

Bok en Nelie se pragtige tuin

Bok Jordaan, oorspronklik van Pretoria, het onderwys aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom studeer. Sy loopbaan in die onderwys het hom deur verskeie skole geneem. Delmas, Potgietersrus en Lichtenburg, totdat hy as skoolhoof in Fochville aangestel is. Daarna het hy as kringbestuurder in Potchefstroom gedien en kort voor sy aftrede in 2013 het hy ook assessering en evaluering in twee provinsies behartig.

Toe inwoners van Miederpark hom nader oor veiligheidskwessies, het hy nie net geluister nie, hy het begin optree. Ná verskeie gemeenskapsvergaderings het hy gehelp om ’n niewinsgewende maatskappy te stig, volledig wettig geregistreer en gedryf deur een doel om die omgewing veiliger en beter te maak vir almal.

Bok Jordaan staan by die kameras wat hulle in Springbokstraat laat opsit het

Wat gevolg het, is ’n projek wat begin het met kameras in Springbokstraat en later uitgebrei het na Sol Plaatjie- en Violetstraat. Vandag sluit dit straatligte, slaggatreparasies, bome wat gesnoei word, verf van strepe, lyne en pale en onkruiddoderbeheer in. Alles word deur die gemeenskap ondersteun met maandelikse bydraes, en alles word self aangekoop en geïnstalleer. Die kameras en straatligte werk selfs tydens kragonderbrekings, danksy sonkragstelsels wat strategies geplaas is om donker hoeke uit te skakel.

“’n Mens moet self begin, anders gebeur dit nooit nie,” sê Bok eenvoudig.

Die resultaat? Minder misdaad, minder verdagte aktiwiteit en ’n straat waar mense mekaar weer ken, groet en vir mekaar omgee. Volgens Bok het die gemeenskapsgevoel iets besonders geword, iets wat hy beskryf as ware samehorigheid. Thomas Frazenburg, wat al 18 jaar vir Bok werk, is ’n groot deel van die praktiese uitvoering van die projek in die strate.

Die visie is egter nog nie klaar nie. Bok wil die projek uitbrei na nog meer strate sodat kinders veilig kan fietsry en inwoners weer vrylik kan stap.

Agter elke sterk man is daar nie net ‘n sterk vrou nie, maar in hierdie geval, ’n besonderse een.

Nelie Jordaan het op Baberspan grootgeword en ook onderwys aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Haar onderwysloopbaan het haar na Sannieshof, Klerksdorp, die Onderwyskollege in Lehurutshe en die Tegniese Kollege in Lichtenburg geneem, voordat sy haar uiteindelik by De Wilge gevestig het.

Sy het in 2015 afgetree. Maar ook vir haar het aftrede ’n nuwe begin beteken. Nelie het skilderklasse begin neem en skep nou pragtige kunswerke. Sy is ook ’n onthaler, kosmaker, toergids en ’n ywerige versamelaar van vetplante, met sowat 150 verskillende spesies wat sy versigtig klein hou weens beperkte spasie. Sy is ook ’n trotse ma en ouma.

Nelie wys van haar vetplantversameling

Beide Bok en Nelie het hul eerste eggenote verloor, en eers jare later het die lewe hulle weer saamgebring toe ’n vriendin hulle aan mekaar voorgestel het. Vandag, 20 jaar later, is hulle nie net ’n paartjie nie, maar ’n span, met sewe kinders tussen hulle (Nellie drie en Bok vier) en ’n groot, lewende familie van 13 kleinkinders.

Die Jordaan-huis is nie net bekend vir sy gemeenskapswerk nie, maar ook vir een van die mooiste tuine in die omgewing. Bok se liefde vir tuinmaak en Nelie se vetplantversameling vorm saam ’n rustige, lewende ruimte vol kleur en sorg.

En stil sit? Dit is eenvoudig nie deel van hul storie nie.

Nelie het ná haar aftrede saam met ’n vriendin begin om toeriste na Phuket te neem, ’n avontuur wat sy self ontdek het tydens hul eerste reis daarheen. Vir die afgelope 10 jaar vat sy gereeld groepe mense op hierdie internasionale ervarings.

Een van Nelie se pragtige kunswerke

Bok en Nelie reis ook gereeld binnelands en bly aktief betrokke in alles wat hulle aanpak. Bok en Nelie Jordaan is nie net inwoners van ’n straat nie, hulle is bouers van ’n gemeenskap.

Hulle verhaal is een van aksie, liefde, verlies, nuwe beginne en volgehoue diens aan ander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button