Die Luiperds het gisteraand in koue en nat toestande met 33-12 die knie teen die Boland Kavaliers op Olënpark gebuig.
Dit was nie maklik vir beide spane nie, met die veld wat na konstante reën steeds nat was. Boland het die voortou geneem met Jade Stighling, Jayden Bantom en Domenic Smit wat vir die besoekers oorduik.
Die Luiperds het wel een puik drie gedruk toe die buitesenter, Indiphile Tyeda, deur ‘n gaping breek. Hy het na sy binnesenter, Brandon Keevy, aangegee wat vir Naiden Jaarts teen die kantlyn laat oorduik het.
Foto’s: Wouter Pienaar







Die Luiperds het die tweede helfte ook goed begin toe die flank, Ghudian van Rheenen oorduik om die telling na sewe punte met 19-12 te vernou. Die Luiperds het hard geveg vir hierdie drie en stadig deur die fases gegaan in ‘n goeie spel van 10 minute.
Een van die groot aspekte wat die Luiperds op die aand gepootjie het, was hul lynstane en skrums. In die lynstane het Marlyn Williams en die oud-NWU speler, Jeandré Leonard, vir die Luiperds ore aangesit. In die skrums was Boland se Dayan van der Westhuizen en Dewald Maritz, as plaasvervangerstut, op hul stukke. Maritz, voormalige Curriebekerwenner met die Pumas, het ook ‘n drie in die tweede helfte gedruk.
Die Luiperds het ook ‘n paar keer puik op die doellyn verdedig en gewys dat hul nie moed opgee nie, al het die telbord nie in hul guns getel nie.
Die Luiperds se volgende wedstryd is teen die Valke op Saterdag, 2 Mei.



