Ernstige rioolprobleem uiteindelik na ‘n week herstel
Huurders kon nie die perseel verlaat sonder om deur die besoedelde water te loop of te ry nie.
Ná bykans ‘n week van frustrasie en herhaalde oproepe om hulp, het die munisipaliteit uiteindelik ingegryp en ‘n ernstige rioolprobleem by ‘n woning in Humperdinckstraat uitgesorteer.
Die voorval het op Sondag, 19 April, by Humperdinckstraat 6 begin toe die rioolstelsel by die eiendom van JJ Janse van Rensburg begin faal het. Volgens Janse van Rensburg het die drein aanvanklik begin opstoot en rioolwater oor die erf versprei.

“Ek het die munisipaliteit se noodnommer geskakel en ‘n werker het omstreeks 16:00 opgedaag. Hy het aan die probleem gewerk en die water het tydelik gesak,” het hy verduidelik.
Die verligting was egter van korte duur. Teen Dinsdag, 21 April, het die probleem weer opgeduik en dié keer met groter intensiteit. Die erf is weer oorstroom en die situasie het só versleg dat huurders nie die perseel kon verlaat sonder om deur die besoedelde water te loop of te ry nie.
Janse van Rensburg sê hy het die munisipaliteit herhaaldelik gekontak, maar min vordering was gemaak.
Die deurbraak het eers Donderdagmiddag plaasgevind toe munisipale werkers omstreeks 16:00 weer op die toneel opgedaag en die probleem uiteindelik aangespreek het.
Hoewel die kwessie nou opgelos is, laat die vertraging vrae oor reaksietye en dienslewering in die gebied.
Die Potchefstroom Herald het navraag vir die JB Marks Munisipaliteit gestuur, maar het nog nie terugvoer oor die rede vir die rioolprobleem verkry nie.



