Noordwes Motorskou lok duisende in Potch
Motors uit verskillende dekades het jonk en oud se aandag getrek by die 32ste Noordwes Motorskou
Die 32ste Noordwes Motorskou was weer ’n absolute belewenis vir motorliefhebbers op Vrydag, 1 Mei, in die hart van Potchefstroom.
Hierdie motorskou, wat 34 jaar gelede ontstaan het as ’n projek van die Nederduitsch Hervormde Kerk (Moedergemeente) in Potchefstroom, was vanjaar propvol verskillende motors en motorfietse.
Volgens die organiseerder van die Noordwes Motorskou, ds. Willem Kok, was daar 220 motors en 20 motorfietse wat uitgestal is.
Foto’s: Wouter Pienaar











Christian Van Wyk



“Daar was minder motors as verwag weens die reën, wat baie eienaars laat besluit het om eerder nie deur te ry nie. Nogtans was dit ’n baie mooi opkoms, met ongeveer 3 500 mense wat die motorskou bygewoon het,” noem ds. Kok.
Volgens hom het die motorskou ’n onmisbare geleentheid vir die publiek geword.
“Dit is lekker om na al die jare te sien hoe mense terugkom en ook nuwe mense van alle ouderdomme lok. Dit is nie net ’n veteraanmotorskou nie, maar motors vir almal. Daar is jong mense wat ook bywoon, en vir hulle is ’n 1990-model al ’n veteraanmotor,” verduidelik hy.
Video: Wouter Pienaar
Die verskeidenheid motors sluit ’n 1939 Cotton, 1953 Bentley, Ford Mustangs en ook spesiale en skaars Mercedes-Benz-motors in, onder vele ander.
Buiten die motors was daar vanjaar ook ’n basaar waar geurige kos gekoop kon word, sowel as ’n oulike hondeskou, ’n antieke veiling en ’n optrede deur die bekende kunstenaar Jakkie Louw.



