Potchefstromers het vroeë toegang tot Aardklop kaartjies
Vanaf 29-31 Mei open kaartjieverkope eksklusief vir Hartsvriende en Potchefstromers vir die 2026 Momentum Aardklop Kunstefees.
Die Momentum Aardklop Kunstefees vind vanjaar van 29 September tot 4 Oktober oudergewoonte in Potchefstroom plaas.
Dit is steeds die grootste en mees diverse kunstefees in die noorde van die land, en poog soos altyd om ook aan hierdie gemeenskappe blootstelling te gee aan van Suid-Afrika se beste kuns in al sy vorme.

Vanaf 29-31 Mei open kaartjieverkope eksklusief vir Hartsvriende en Potchefstromers (meer hieroor op aardklop.co.za). Potchefstromers het sodoende eksklusief toegang om alreeds hul kaartjies aanlyn te kan koop deur van die kode “Potch2026” gebruik te maak.
Kunsliefhebbers in Potchefstroom kan na ‘n verskeidenheid produksies uitsien met van die land se top sangers en akteurs wat gehore sal betower.
Die program is ook amptelik bekend en sluit iets vir elke smaak in. Op 1 Junie open kaartjieverkope eers vir die algemene publiek.

’n Kernaspek om van kennis te neem, is dat Momentum Aardklop vanjaar eksklusief van ’n nuwe kaartjieplatform gebruik maak.
Al die kaartjies vir die 2026-fees sal op SeatMe.co.za verkoop word.
“Vanjaar se program bied weer eens iets vir almal, van fynproewer tot Jan Alleman, van oupa tot kleinding, diepdenker tot dopdrinker, boekwurm tot lagpapie en feesflêrries. Soos’it hoort,” sê Alexa Strachan, die feesdirekteur.
“Daar is legendariese kunstenaars, nuwelinge, musikante vir iedereen se smaak – en dan natuurlik ook ons gewilde feesterrein met hordes stalletjies vir alle smulpape en snuffelaars. Die terreinverhoog se sangers bied ook iets vir almal teen sakpaspryse – die petrolprys behoort jou dus nie te bekommer nie. Beplan jou en die hele gesin en vriendekring se skoolvakansie nou al!”



