Nege sterf in gru-botsing tussen taxi en vragmotor buite Potchefstroom
Die ongeluk het plaasgevind by die bekende vierstop-kruising op die R500-pad tussen Fochville en Parys en die R54 tussen Potchefstroom en Vereeniging.
Nege mense is dood en verskeie ander beseer in ’n gru-botsing tussen ’n minibus-taxi en ’n vragmotor by die besige kruising van die R500 en R54 buite Potchefstroom vroeg Vrydagoggend, 29 Mei.
Die ongeluk het plaasgevind naby die bekende vierrigting-kruising op die R500-pad tussen Fochville en Parys en die R54 tussen Potchefstroom en Vereeniging. Nooddienste het kort ná die botsing na die toneel gehaas, terwyl motoriste intussen aangeraai is om die gebied heeltemal te vermy.
Volgens voorlopige inligting was die taxi vanaf Potchefstroom in die rigting van Parys onderweg toe die botsing plaasgevind het. Die presiese omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek.
Agt mense is op die toneel dood verklaar, terwyl nog ’n persoon later in die hospitaal aan beserings beswyk het. Owerhede het bevestig dat die slagoffers uit sewe mans, een vrou en ’n kind tussen ongeveer 10 en 14 jaar oud bestaan.
Sewe ander beseerdes is na hospitale in Gauteng en Parys vervoer deur Gauteng Emergency Medical Services, asook ambulansdienste van Gladiator Distress Alert en ER24.
Wetstoepassers, nooddienste en amptenare van die Noordwes Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur was vroeg reeds op die toneel om hulp te verleen en verkeer te beheer.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het bevestig dat die pad vermoedelik vir die grootste deel van die dag gesluit sal bly terwyl die forensiese span hul ondersoek op die toneel uitvoer. Die vragmotor lê steeds oor dele van die pad, wat verkeer verder ontwrig.
Motoriste word versoek om alternatiewe roetes te gebruik.




