Local newsNewsNews

DA lê strafsaak ná kabeldiefstal JB Marks in duisternis dompel

Volgens DA-raadslid Johan Zerwick het die diefstalle gedurende Mei drasties toegeneem, met verskeie voorvalle wat in Wyk 4 en Wyk 5 aangemeld is.

Die DA in JB Marks het ‘n strafsaak by die SAPD geopen nadat herhaaldelike kabeldiefstalvoorvalle verskeie woonbuurte sonder elektrisiteit gelaat en miljoene rand se skade aan munisipale infrastruktuur veroorsaak het.

Volgens DA-raadslid Johan Zerwick het die diefstalle gedurende Mei drasties toegeneem, met verskeie voorvalle wat in Wyk 4 en Wyk 5 aangemeld is.

Voorvalle is op 14 Mei in Olivierstraat, op 15 Mei in Louw- en Klerkstraat, op 19 Mei in Hoffstraat, op 21 Mei weer in Klerkstraat, op 28 Mei in Grimbeeck-, Klerk- en Smitstraat en weer op 1 Junie aangemeld.

“Hierdie golf van kriminele vernietiging het nou onaanvaarbare vlakke bereik,” het Zerwick gesê.

Hy sê die munisipaliteit bestee na bewering sowat een volledige rol geleidingsdraad per week om gesteelde infrastruktuur te vervang.

“‘n Enkele rol van 1 000 meter kos ongeveer R20 000. Kriminele sny al vier elektriese lyne tussen pale af en stroop tot 400 meter kabel tydens een voorval. Dit is eenvoudig nie volhoubaar nie.”

Volgens Zerwick neem herstelwerk tussen drie en vier uur per voorval, wat veroorsaak dat ander noodsaaklike instandhoudingswerk vertraag word en oortyduitgawes toeneem.

In een van die jongste voorvalle is kabels wat omstreeks 03:00 op ‘n Vrydagoggend gesteel is, eers laat die daaropvolgende Maandagmiddag vervang.

“Inwoners was vir vier dae sonder elektrisiteit. Gesinne het kos verloor omdat yskaste en vrieskaste buite werking was, terwyl ander groot bedrae geld aan brandstof vir kragopwekkers moes bestee,” het hy gesê.

Die DA meen die omvang, frekwensie en gesofistikeerdheid van die voorvalle dui op georganiseerde misdaad eerder as geïsoleerde diefstalle.

Zerwick het bevestig dat hy op 30 Mei formeel ‘n strafsaak by die SAPD geopen het oor die voortgesette diefstal en vernietiging van munisipale elektriese infrastruktuur.

“Die kriminele klag is ingedien ná nóg ‘n nag van gekoördineerde kabeldiefstalvoorvalle wat verskeie strate in JB Marks geteiken het,” het hy gesê.

Die DA het versoek dat wetstoepassingsowerhede ‘n volledige ondersoek na die kabeldiefstal begin, moontlike sindikate identifiseer en onwettige skrootmetaalkanale en kopers ondersoek.

Die party het ook die uitvoerende burgemeester en die munisipale bestuurder versoek om infrastruktuursekuriteit dringend te versterk, beter monitering van hoërisikogebiede in te stel en deursigtige verslagdoening oor infrastruktuurverliese aan die raad en inwoners te verskaf.

Intussen het verskeie gemeenskapsorganisasies hul betrokkenheid verskerp. Community in Blue (CiB), Mooirivier Beskerming, CSS, MEG en AfriForum neem tans deel aan patrollies in ‘n poging om verdere kabeldiefstal te voorkom.

“Die mense van JB Marks verdien ‘n munisipaliteit wat gemeenskappe beskerm, openbare infrastruktuur beveilig en betroubare dienste lewer waarop inwoners kan staatmaak,” het Zerwick gesê.

Navraag is by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button