Staatmakervrou se skielike afsterwe tref diep
Carin Nieuwoudt (43) sal onthou word vir haar doelgerigte lewensuitkyk en liefde.
Vir almal wat vir Carin Nieuwoudt geken het, laat sy ’n groot leemte, juis omdat sy die lig in ander mense se lewens was.
Carin is Saterdag, 30 Mei, weens ’n breinaneurisme op 43-jarige ouderdom oorlede. Sy was ’n geliefde dogter, sussie, vriendin en kollega. Carin was werksaam as administratiewe assistent by Japie van Zyl Prokureurs in Potchefstroom.
Volgens haar pa, Tielman, was Carin ’n modelkind wat saggeaard, hulpvaardig en hardwerkend was.
“Carin was my oogappel. ’n Meisiekind het die manier om onder ’n pa se vel in te kruip, en dit het sy beslis gedoen. Sy was ek en Christine se eerste kind, en ons was baie trots op haar,” sê Tielman.

“Carin was enige ouer se modelkind. Sy was ’n saggeaarde en hulpvaardige mens wat hardwerkend en doelgerig was. Geen taak of opdrag was vir haar te moeilik nie. Wanneer ons familievakansies gehou het, het sy alles vooruit beplan. Ons hoef nooit te wonder het wat om te doen nie. Sy kon beuselagtighede nie verdra nie.”
Haar kollegas beskryf haar as ’n staatmaker met ’n unieke persoonlikheid wat almal om haar aangemoedig en ondersteun het.
Anneke Botha, boedeladministrateur by Japie van Zyl Prokureurs, sê daar was geen grys areas met Carin nie.
“Niks was nog ooit te veel moeite nie. Jy het altyd ingespring en gehelp. ’n Mooi eienskap in vandag se tye was haar eerlikheid en opregtheid. Sy het altyd omgegee en haar alles gegee. Haar sin vir humor het my elke dag gedra wanneer dinge soms net te veel geraak het.”
Anneke vertel verder dat Carin altyd ’n punt daarvan gemaak het om op te vang en te gesels.
“Ek koester elke oomblik wat ons saam middagete kon eet, grappies maak en net vinnige geselsies aanknoop. Ons middagetes het gewissel van ’n stoel in haar kantoor tot ’n klein tafeltjie (wat altyd vol lêers was) en soms selfs die grond. Middagete het ons egter altyd saam gedeel terwyl ons die nuutste nuus uitgeruil het. Sy sou altyd plek maak vir my om te sit en ’n oor hê om te luister, asook te bemoedig. Jou liefde en omgee vir jou familie en vriende kon mens elke dag sien.”
Anneke noem dat Carin perfeksionisties en doelgerig was en almal se belange op die hart gedra het.
“Ek gaan jou ongelooflik baie mis – jou lag, jou menswees en jou teenwoordigheid.”
Charmaine Jordaan, haar mede-kollega, sê dat sy lekker saam met Carin kon lag en huil.
“As kollega en geliefde vriendin het sy my lewe verryk met haar siening dat elke mens potensiaal het en dat elkeen net sy talente en verstand moet gebruik. Haar afsterwe laat ’n groot leemte in die kantoor en in my hart.”
Volgens haar pa het Carin altyd gelag en was sy ’n stabiele persoon – jy het geweet wat jy met Carin kry.
“Carin was ’n ware Christen en diepgelowige wat na aan haar Skepper geleef het. Sy was ook ’n baie intelligente persoon met ’n goeie algemene kennis en kon oor verskeie onderwerpe met jou redeneer. Sy het op skool verskeie pryse vir algemene kennis gewen. Ons gesin gaan haar baie mis. Rus sag, my kind.”
Carin se teraardebestelling vind op Saterdag, 6 Junie, om 09:30 op die plaas Diamantdoorns naby Schweizer-Reneke plaas. Haar roudiens vind om 11:30 by die AP Kerk Schweizer-Reneke (Marksonstraat 45) plaas.



