Local newsNews

Anonieme engel gee Lily ‘n tweede kans

Lily het op 23 Mei uit 'n erf geglip waar vriende na haar sou omsien. Ná dae se soektog is sy uiteindelik op 29 Mei by PAWS Haven opgespoor.

Wat enkele dae gelede na ‘n desperate pleidooi om hulp gelyk het, het in ‘n hartroerende verhaal van omgee en gemeenskapsgees verander nadat ‘n anonieme skenker die volle bedrag vir die geliefde hond Lily se operasie geskenk het.

Lily se eienaar, Janita de Kock, het verlede week die gemeenskap om hulp genader nadat haar hond ernstig beseer gevind is ná sy byna ‘n week lank vermis was.

Lily het op 23 Mei uit ‘n erf geglip waar vriende na haar sou omsien. Ná dae se soektog is sy uiteindelik op 29 Mei by PAWS Haven opgespoor. Die vreugde om haar terug te kry, het egter vinnig plek gemaak vir kommer toe dit aan die lig gekom het dat sy ernstige beserings opgedoen het en dringend ‘n operasie benodig.

Die gesin het voor ‘n rekening van ongeveer R15 000 te staan gekom, ‘n bedrag wat hulle nie self kon bekostig nie.

Nadat die Potchefstroom-gemeenskap van Lily se storie gehoor het, het ondersteuning ingestroom en ‘n anonieme skenker het uiteindelik na vore getree om die volle koste van die operasie te dek.

‘n Emosionele de Kock het haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat gehelp, gebid, gedeel en ondersteuning gebied het.

“Ons harte loop oor van dankbaarheid. Toe ons hoor dat iemand die volle bedrag vir Lily se operasie geskenk het, kon ons dit amper nie glo nie. Wat vir ons soos ‘n onmoontlike situasie gevoel het, het verander in hoop en nuwe moed,” het sy gesê.

“Ek wil uit die diepte van my hart dankie sê aan elke persoon wat ons boodskap gedeel het, wat navraag gedoen het, wat vir Lily gebid het en veral aan die engel wat hierdie operasie moontlik gemaak het. Daar is regtig nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ons is nie.”

Volgens de Kock beteken die skenking veel meer as net finansiële hulp.

“Hierdie gebaar het ons herinner hoeveel goeie mense daar nog is. Iemand wat ons nie eens ken nie, het besluit om vir Lily ‘n kans op herstel te gee. Dit is iets wat ons nooit sal vergeet nie. Dankie dat julle vir ons en vir Lily gewys het dat daar steeds ongelooflike omgee in ons gemeenskap is.”

Lily sal nou die nodige behandeling kan ontvang, terwyl haar eienaars met nuwe hoop uitsien na haar herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button