Local newsNewsNews

Wees waaksaam, maar moenie paniekerig raak oor beplande optog nie

Potchefstroom is as ’n gebied met ’n medium risikovlak geïdentifiseer. Lees meer hier oor 30 Junie se protesotog hier:

Gemeenskappe regoor Suid-Afrika, insluitend Potchefstroom, word aangemoedig om waaksaam te bly en nie paniekerig te raak nie te midde van beplande landswye protesoptogte teen onwettige immigrasie wat Dinsdag, 30 Junie, verwag word.

Volgens AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid word verwikkelinge rondom die optogte noukeurig gemonitor. Hoewel die grootste risiko van moontlike onrus tans in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng geïdentifiseer is, kan demonstrasies en verwante voorvalle ook elders in die land voorkom.

Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê die beste reaksie in tye van onsekerheid is voorbereiding en nie paniek nie.

“Gemeenskappe wat ingelig, verbind en waaksaam is, is baie beter geposisioneer om hulself te beskerm en te verhoed dat hulle slagoffers word van omstandighede buite hul beheer,” sê Broodryk.

Hy sê die onluste van Julie 2021 het gewys hoe vinnig protesaksies kan ontaard en dat gemeenskappe verstandige voorsorgmaatreëls moet tref om hul veiligheid te verseker.

Potchefstroom is intussen as ’n gebied met ’n medium risikovlak geïdentifiseer. Volgens beskikbare inligting kan gelokaliseerde protesoptrede, verkeersontwrigtings en ’n moontlike impak op kleinhandelondernemings in die Potchefstroomse sakekern voorkom.

Die gebiede wat spesifiek as moontlike brandpunte geïdentifiseer is, sluit die Potchefstroomse Sentrale Sakekern, taxistaanplekke en die N12- en R53-toegangsroetes in.

AfriForum moedig inwoners aan om op hoogte te bly deur opdaterings van betroubare gemeenskapsveiligheidsstrukture, buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums, plaaslike sekuriteitsmaatskappye en wetstoepassingsagentskappe te volg.

Motoriste word aangeraai om hul voertuie vol brandstof te hou, reisroetes vooraf te beplan en alternatiewe roetes na werk, skole en ander noodsaaklike bestemmings te identifiseer.

Inwoners word verder versoek om algemene protesgebiede te vermy, nie deur skares of padversperrings te probeer ry nie en om enige gebied onmiddellik te verlaat indien ’n byeenkoms aggressief of onstabiel raak.

AfriForum waarsku ook teen die verspreiding van ongeverifieerde inligting en gerugte op sosiale media.

Intussen het owerhede in Noordwes riglyne uitgereik oor hoe inwoners situasies wat onwettige immigrante betref, moet hanteer.

Die publiek word aangemoedig om misdaad by die SAPD se misdaadnommer by 08600 10111 of by hul naaste polisiestasie aan te meld, en om saam met gemeenskapspolisiëringsforums en gemeenskapsforums te werk.

Owerhede beklemtoon dat inwoners die wet moet ken en slegs voorvalle moet aanmeld, eerder as om mense self aan te hou, te deursoek of te arresteer.

Die publiek word ook versoek om op misdaad te fokus en nie mense op grond van hul voorkoms of taal te beoordeel nie.

“Moenie die reg in eie hande neem nie. Dreigemente, geweld en intimidasie is misdade,” lui die riglyne.

Inwoners word verder gewaarsku om nie vals nuus te versprei nie en om alle inligting te verifieer voordat dit gedeel word.

Die riglyne beklemtoon ook dat niemand basiese dienste ontneem mag word nie, aangesien elke persoon wetlike regte op noodsaaklike dienste het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button