Ek kyk nie sokker nie. Om eerlik te wees, ek is nie eens ’n groot sportliefhebber nie. As jy my ’n keuse gee tussen ’n sportwedstryd en ’n rustige aand by die huis, sal ek byna altyd die tweede opsie kies.
Maar soms gebeur daar iets wat jou perspektief heeltemal verander.
’n Vriendin het my Sondagaand gevra om saam met haar na The Local in Potchefstroom te gaan om die 2026 Bafana Bafana- en Kanada-wêreldbekerwedstryd te kyk. Ek het nie veel daarvan verwag nie. Ek het gedink dit sou net ’n lekker kuier saam met ’n vriendin wees.
Ons was aanvanklik drie vroue om ’n tafel. Binne ’n kort tydjie was ons tien.
Vroue in hul vroeë twintigs tot vroue in hul vroeë veertigs het skielik saamgesmelt in een groep. Sommige het mekaar geken, ander nie. Tog het dit nie saak gemaak nie. Vir negentig minute het ouderdom, beroepe en agtergronde verdwyn. Ons het almal net een ding in gemeen gehad, ons het vir dieselfde span geskree.
Die gejuig wanneer Bafana Bafana iets reg gedoen het, en die tasbare teleurstelling wanneer dinge nie volgens plan verloop het nie, het deur die lug gehang. Die energie was aansteeklik. Selfs iemand soos ek, wat nie die reëls van sokker tot in die fynste detail ken nie, het myself op die punt van my stoel bevind.
Daar was iets besonders aan die atmosfeer. Mense het gelag, mekaar aangemoedig, mekaar se opgewondenheid gevoed en saam die oomblikke beleef. Niemand het omgegee wie jy is of waar jy vandaan kom nie. Vir daardie paar uur was ons net mense wat dieselfde emosies gedeel het.
Dit het my laat besef hoe vinnig mense met mekaar kan verband hou wanneer hulle iets in gemeen vind.
Ons leef in ’n tyd waar mense dikwels verdeeld voel, deur politiek, omstandighede, menings en selfs sosiale media. Tog het ’n eenvoudige sokkerwedstryd my herinner dat dit soms net een gedeelde ervaring verg om mense bymekaar te bring.
Nog meer as dit, het dit my gewys hoe aansteeklik mense se gees kan wees. Jy kan ’n plek instap sonder enige belangstelling in wat aangaan, maar die opgewondenheid, die passie en die positiewe energie van die mense om jou raak aan jou. Voor jy jou kom kry, juig jy saam, lag jy saam en voel jy deel van iets groter.
Dalk is dit die ware krag van sport.
Dit gaan nie altyd oor die telling op die telbord nie. Dit gaan oor die mense om jou. Die vreemdelinge wat vriende word, die herinneringe wat geskep word en die besef dat ons, ten spyte van al ons verskille, steeds baie meer in gemeen het as wat ons dink.
Sondagaand het ek nie net ’n sokkerwedstryd gekyk nie.
Ek het gesien hoe negentig minute mense bymekaar kan bring.



