Brandstofpryse daal vanaf 1 Julie
Julie begin op 'n beter noot vir padverbruikers wat so bietjie meer kan asem skep.
Motoriste kan vanaf Woensdag, 1 Julie, uitsien na verligting by die brandstofpompe nadat die Minister van Minerale en Petroleumbronne, Gwede Mantashe, nuwe brandstofaanpassings aangekondig het.
Volgens die departement is die daling in brandstofpryse hoofsaaklik te danke aan ’n afname in internasionale ruoliepryse, laer petroleumprodukpryse en ’n sterker rand teenoor die Amerikaanse dollar gedurende die afgelope maand.
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het van 104.59 Amerikaanse dollar tot 86.53 dollar gedaal, terwyl die rand ook versterk het van R16.52 tot R16.38 teenoor die dollar.
Vanaf 1 Julie sal brandstofpryse soos volg aangepas word:
- Petrol 93: daal met 201 sent per liter
- Petrol 95: daal met 196 sent per liter
- Diesel 0.05% swael: daal met 313.80 sent per liter
- Diesel 0.005% swael: daal met 358.80 sent per liter
- Paraffien: daal met 523 sent per liter
Die departement het bevestig dat die aanpassings maandeliks bepaal word op grond van plaaslike en internasionale marktoestande.
Hoewel motoriste minder vir brandstof sal betaal, sal die maksimum kleinhandelprys van LPG-gas vanaf Julie met 16 sent per kilogram verhoog word.



