Local newsNewsNews

Verlede ontmoet die toekoms in Potch Kunsgalery se nuwe uitstalling

Die uitstalling is meer as net 'n versameling skilderye.

Die mure van Potch Kunsgalery vertel dié maand stories wat oor dekades strek. Met die uitstalling Verlede – Toekoms word besoekers genooi om nie net na kuns te kyk nie, maar om dit te beleef, te voel en hul eie betekenis daarin te vind.

Die uitstalling, wat werke van Cronje Lemmer, Erhardt Grobbelaar en Dedré Victor saambring, bied ‘n unieke versameling van kunswerke waarvan sommige nog nooit voorheen uitgestal is nie. Ander bekende werke is weer in ‘n heel nuwe konteks geplaas, wat die uitstalling se titel besonder gepas maak.

Dedré by een van haar gunsteling kunswerke. Foto: Tania Coetzee.

 “Elke stuk kuns het ‘n eienaar,” het Dedré tydens die opening gesê. Volgens haar vind elke kunswerk uiteindelik sy pad na iemand met wie dit ‘n besondere verbintenis vorm.

Die uitstalling is meer as net ‘n versameling skilderye. Dit is ‘n reis deur herinneringe, verlies, oorlewing en hoop. Sommige werke is jare gelede begin en eers veel later voltooi, terwyl ander steeds die gevoel van onvoltooide stories dra, verhale wat deur die kyker se eie verbeelding voltooi word.

Die nalatenskap van die ontslape kunstenaar Erhardt Grobbelaar leef sterk voort in die uitstalling. Hy en Cronje Lemmer het vir bykans 40 jaar langs mekaar geskep, idees gedeel en mekaar geïnspireer. Van die kunswerke wat nou uitgestal word, dateer reeds uit 1991 en getuig van ‘n lewenslange passie vir skepping.

Cronje by een van sy gunsteling kunswerke. Foto: Tania Coetzee.

Vir die kunstenaars bly die behoefte om te skep iets wat nie deur die uitdagings van die lewe stilgemaak kan word nie. Dit word asem, lewe en vreugde, of die tye nou rustig of stormagtig is.

Die opening het ook gewys dat kreatiwiteit nie net op ‘n doek leef nie. Dedré het gaste bederf met haar tuisgemaakte uie-, perske- en bloukaas-quiche, ‘n smaakvolle herinnering dat kuns ook in kos gevind kan word.

Soos Vincent van Gogh eenmaal gesê het: “We can only make our pictures speak.” Dit is presies wat Verlede – Toekoms doen, elke kunswerk spreek met sy eie stem tot die hart, siel en verbeelding van elke besoeker.

Die uitstalling is vanaf 4 tot 31 Julie daagliks tussen 10:00 en 16:00 by Potch Kunsgalery, Sol Plaatjiestraat 44, Potchefstroom, te sien. Dit bied kunsliefhebbers die geleentheid om stil te staan by die verlede, die hede te waardeer en hul eie toekomsverhale tussen die kleure en kwashale te ontdek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button