Rioolprobleme duur voort by Bothastraat-pompstasie
Die tydelike pomp is ingespan om die stelsel aan die gang te hou terwyl een van die permanente pompe herstel word.
Die opgraderingsprojek by die Bothastraat-rioolpompstasie in Potchefstroom gaan voort, maar inwoners en werkers in die omgewing ervaar tans weer probleme met reuke, riool wat opstoot en druk op die bestaande stelsel.
Die probleme volg nadat ’n trok op 7 Augustus by die konstruksieterrein in ’n sloot beland het nadat die voertuig se remme glo onklaar geraak het. Die bestuurder is toe hospitaal toe geneem en ’n pyp op die perseel is beskadig.
Hoewel die beskadigde pyp intussen herstel is, is daar steeds ’n geringe lek aan die pyp wat werkers sukkel om heeltemal te herstel. Daar is ook tans verskeie ander lekkasies aan rioolpype by die pompstasie.
Volgens DA-raadslid Heinricha Hodgson van wyk 5, wat Woensdag saam met die Herald die pompstasie besoek het, plaas die huidige omstandighede toenemende druk op die rioolstelsel.
“Daar is tans ’n tydelike pomp in gebruik wat slegs ongeveer 125 liter per minuut kan pomp. Die pomp wat normaalweg gebruik word, kan ongeveer 400 liter per minuut pomp. Dit beteken daar is tans ’n groot druk op die stelsel,” sê Hodgson.
Die tydelike pomp is ingespan om die stelsel aan die gang te hou terwyl een van die permanente pompe herstel word.
Die druk op die stelsel word volgens Hodgson reeds in die gemeenskap gevoel, met inwoners wat kla oor onaangename reuke en toilette wat opstoot.
“Ons kry tans baie klagtes van inwoners oor die reuk en toilette wat opstoot. Die werkers by die pompstasie ervaar ook die probleme en probeer om die situasie so goed moontlik te bestuur,” sê sy.

Die goeie nuus is dat die herstelwerk aan die pomp na verwagting teen volgende Vrydag voltooi sal wees. Die herstelde pomp behoort dan by die pompstasie te wees en geïnstalleer te word.
Volgens Hodgson behoort dit die druk op die stelsel aansienlik te verlig. Die huidige probleme kom te midde van ’n groter opgraderingsprojek by die Bothastraat-pompstasie, wat na verwagting tot Februarie 2027 sal duur.
Die pompstasie ontvang na bewering ongeveer 80% van Potchefstroom se riool, wat die projek van groot belang vir die stad se rioolinfrastruktuur maak.
Hodgson sê die situasie word fyn dopgehou en dat die fokus tans daarop is om die bestaande stelsel onder die moeilike omstandighede aan die gang te hou totdat die herstelwerk voltooi is.
“Dit is nie ’n ideale situasie nie, maar ons is bewus van die probleme en hou ons vinger op die pols. Ons hoop dat die herstel van die pomp volgende week die druk op die stelsel aansienlik sal verlig,” sê Hodgson.
Navrae is aan die JB Marks Munisipaliteit gestuur maar daar nog nie terugvoer ontvang nie.



