Slegte paaie knou besighede in Potchefstroom se nywerheidsgebied
Besighede in die gebied het al herhaaldelik uit hul eie sak geld spandeer om die pad te herstel.
Sakemanne, werknemers en kliënte in Potchefstroom se nywerheidsgebied is toenemend gefrustreerd oor die swak toestand van die paaie, veral Elsenbroekstraat, wat volgens besigheidseienaars ’n groot probleem geword het.
Besighede in die gebied het al herhaaldelik uit hul eie sak geld spandeer om die pad te herstel, maar kan volgens hulle nie meer bekostig om voortdurend self die nodige herstelwerk te doen nie.
Prof. Theo Venter, die DA se burgemeesterskandidaat, het onlangs die gebied besoek en met besigheidseienaars oor die toestand van die paaie gesels.
“Ons moet die paaie van JB Marks-munisipaliteit weer aan die werk kry. Wanneer paaie reggemaak en behoorlik onderhou word, kan besighede groei en floreer. Kliënte kan maklik by besighede uitkom en hul daaglikse sake doen,” het Venter gesê.
“’n Werkende padnetwerk beteken ’n werkende ekonomie en ’n groeiende ekonomie beteken meer werksgeleenthede vir almal.”
JP Olifant, wat in die gebied werk, sê die swak paaie raak nie net besighede en kliënte nie, maar ook werknemers wat daagliks deur die gebied moet ry.
“Dit is selfs vir werknemers moeilik om in die gebied te ry. Die toestand van die paaie beïnvloed die kliëntebasis en dit eis ook sy tol op werknemers se voertuie,” sê Olifant.
Volgens besigheidseienaars is behoorlike instandhouding van die paaie noodsaaklik om te verseker dat ondernemings in die nywerheidsgebied kan voortgaan om sake te doen en te groei.
Navraag is by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.



