Grotte neem jou op ‘n ontdekkingsreis verby die oppervlak
Ter viering van Internasionale Grot- en Karstdag op 13 September, is daar geleentheid vir inwoners om saam ervare grotkenners meer oor grotte te leer.
Die aantrekkingskrag van grotte lê nie net in die verkenning van nou tonnels in die grond nie, maar bied ook ’n geleentheid om nuwe dele onder die grond te ontdek wat niemand anders nog gesien het nie.
So verduidelik Gerhard Jacobs van die Potch Potholers-grotklub oor een van die Potchefstroom-omgewing se grootste vondse: Die ontdekking van grotte.
“Daar is nog baie om onder die grond te ontdek. Mense het al die hoogste piek geklim, maar nog nie diep onder die aarde gegaan nie,” vertel Jacobs.

Ter viering van Internasionale Grot- en Karstdag op 13 September, moedig die Suid-Afrikaanse Speleologiese Vereniging (SASA), saam met sy geaffilieerde grotklubs, soos die Potch Potholers, lede van die publiek aan om ’n egte Suid-Afrikaanse grot onder begeleiding van ervare grotbewoners te ervaar.
“Jy hoef nie ’n ervare grotbewoner te wees nie. Jy hoef nie oor gespesialiseerde toerusting te beskik nie en jy hoef beslis nie te weet wat jy doen voordat jy opdaag nie. Daarom sal ervare grotbewoners daar wees,” sê SASA-president André Grove.
Die doel is nie om eerstekeerbesoekers oornag in ekstreme ontdekkingsreisigers te verander nie, maar eerder om mense op ’n verantwoordelike en veilige manier aan grotte bekend te stel en vir hulle te wys waaroor ontspanningsgrotverkenning werklik gaan. “Potch is ’n ryk dolomietlandskap. Wat Potch se grotte so uniek maak, is dat dit vertikaal is. Die grotte is honderde meter diep en kilometers lank. Daar is baie om te ontdek. Ons Potch Potholers-klub bestaan al 25 jaar,” noem Jacobs.

Foto: Verskaf.
Vir die Potch Potholers gaan die ontdekking van nuwe terrein onder die grond net so lekker saam met die sosiale ervaring.
“Jy leer nuwe mense ken en ons hou ’n braai en kuier lekker saam. Ons het ervare en kundige manne wat jou touwys kan maak en jou begelei. Enigiemand kan betrokke raak. Ons reël gewoonlik om op ’n plaaslike boer se plaas te kamp en dan spandeer ons ’n Saterdag daar en ontdek die ingange wat ons geïdentifiseer het,” verduidelik Jacobs.

’n Belangrike element is dat grotte onder streng toesig verken moet word. Dit is waarom die koördinate van die grotte se ingange nie algemeen bekend is nie. ’n Ekspedisie na die grotte word gewoonlik goed beplan.
Natuurlik is dit belangrik om te weet dat ’n mens lekker vuil gaan word en jouself in nou ruimtes gaan uitdaag – dit is alles deel van die pret.
“Die meeste vriendegroepe of gesinne wat die eerste keer saamkom, geniet dit verskriklik baie.”
“Dit is ’n nuwe ervaring wat soos niks anders is nie. Jy ontdek nuwe dele van die aarde.”
Belangstellendes wat hierdie Sondag een van die plaaslike grotte wil besoek of meer oor grotte wil weet, kan Gerhard Jacobs by 083 655 8921 kontak.




