M.L. Fick blink uit en wen AfriForum-herwinningskompetisie
Emmies het die ander vier deelnemende laerskool uitgestof met ‘n gemiddeld van 5,01 kg plastiekbottels per leerder.
Laerskool M.L. Fick is die eerste wenners van AfriForum se Blink of stink-herwinningskompetisie nadat die skool 3,2 ton se plastiekbottels vir herwinning oor die afgelope 10 weke ingesamel het.
Emmies het die ander vier deelnemende laerskool uitgestof met ‘n gemiddeld van 5,01 kg plastiekbottels per leerder. As wenners het Emmies R 30 000 se prysgeld bekom.



Die leerders het met groot opgewondenheid gegil toe die AfriForum streekkoordineerder van die Mooirivier-tak, Alta Pretorius, die wenskool aankondig. Hierdie projek was in samewerking met Deswalner Recycling.
Mnr. Jason Pieters het die projek namens die skool gedryf en was dankbaar dat die skool as die wenner kon uittree. Die skoolhoof, mnr Heyns Deacon, het ook genoem dat mnr Pieters juis ‘n groot passie vir die omgewing het en juis daarom ook die leerders inspireer.
Laerskool Baillie Park is tweede in die kompetisie en behaal R 15 000 prysgeld. Leerders van dié skool het elk gemiddeld 3,66 kg plastiekbottels ingesamel.
Laerskool Proteapark, Laerskool Dawid Brink en Laerskool Mooirivier was die ander deelnemende skole.
Die vyf skole het gesamentlik 9,2 ton plastiek vir herwinning ingesamel.
AfriForum se afdelings vir Omgewingsake en Onderwys het hierdie kompetisie aangebied met die doel om ’n kultuur van herwinning, gesonde mededinging en omgewingsverantwoordelikheid onder laerskoolleerders te bevorder.



