Local newsNewsNews

Komedie, spanning en ’n onverwagse besoeker uit die verlede

Dié komiese spanningsdrama bring selfs vir Daisy de Melker terug na die verhoog.

Aardklop-toneelgangers kan vanjaar uitsien na ’n besonderse mengsel van komedie, spanning, glans en ’n hele paar verrassings wanneer Tronk met ’n D sy opwagting maak.

En ja, jy lees reg. Dié komiese spanningsdrama bring selfs vir Daisy de Melker terug na die verhoog. Die enigste probleem? Sy is al 95 jaar dood en volgens alle rekords behoort sy beslis nie meer in ’n vrouetronk rond te loop nie.

Tronk met ’n D vertel die verhaal van die popmooi sosiale vlinder Leksie Pieterse, wat tot 20 jaar tronkstraf gevonnis word vir die gifmoord op haar ryk vroetelpappie, Bakkies Barnard.

In die tronk word Leksie in ’n sel saam met Cruella, Bakkies se weduwee, en die hardnekkige Daisy de Melker opgesluit. Daisy, vertolk deur Elzabé Zietsman, regeer volgens die verhaal die vrouetronk met ’n ysterhand, ondanks die feit dat sy eintlik al dekades gelede dood moes gewees het.

Maar dinge raak behoorlik interessant wanneer die speurjoernalis Woef Willemse skielik opdaag, op soek na ’n goeie storie.

Wanneer Leksie egter ontdek dat haar slinkse prokureur ’n dubbele lewe lei, begin ’n gevaarlike spel van wraak. Met die hulp van speurder Wihan Beyleveld moet die vroue besluit hoe om ’n man se reputasie van agter tralies af behoorlik te vernietig.

Ignatius van Heerden en Andre Lotter vertolk elk verskeie rolle in dié musikale treffer. En ja, Daisy en haar selgenote kan boonop nog sing ook.

Met glans, satire, spanning en ’n goeie skeut dodelike sjarme beloof Tronk met ’n D om gehore behoorlik te vermaak.

Die teks is deur Braam van der Vyver geskryf, met Lihan Pretorius en Johan van der Merwe aan die stuur van die regie. Dewald Rieger is verantwoordelik vir die musiek.

Tronk met ’n D word by Gimmies opgevoer op 30 September om 09:30, 1 Oktober om 19:30 en 2 Oktober om 20:00.

Die produksie is geskik vir persone van 13 jaar en ouer.

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.seatme.co.za of by die feeskantoor by The Roots, MC Rooderylaan 954.

As jy lus is vir ’n aand van lag, spanning en ’n bietjie moorddadige vermaak, is dié een beslis op die Aardklop-program om dop te hou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button