Potchefstroom Gimnasium se kookwater-o16-skrumskakel, Wihan Strydom, maak geskiedenis as die eerste speler van Potch wat vir die SARU o16 EPD-kamp (Elite Player-ontwikkelingsprogram) gekies is. Hierdie kamp vind van 26 September tot 2 Oktober in die Wes-Kaap plaas.
Springbokafrigter Rassie Erasmus en sy regterhand, Jacques Nienaber, het hierdie program in 2013 bekendgestel. Die program nooi die beste jong spelers uit verskillende ouderdomsgroepe na die kamp in die Wes-Kaap. Daar word net 58 spelers landswyd na hierdie o16-kamp genooi. Wihan is een van slegs vier skrumskakels wat hierdie geleentheid kry om afrigting en vaardighede op wêreldgehaltevlak aan te leer.
Die hoofidee van hierdie kamp is om talent te identifiseer en spelers voor te berei vir senior rugby, met die moontlikheid om eendag vir die Springbokke te speel. Die roete begin dus nou in alle erns vir Wihan, wat vanjaar by die o16 Grant Khomo week vir die Luiperds uitgeblink het.
Wihan se prestasie is ’n getuigskrif van Gimmies se rugbyprogram, wat geleenthede vir spelers skep om hul talent te ontwikkel en nasionale erkenning te kry. Wihan is ook ’n oud-leerder van Laerskool Baillie Park, waar sy liefde vir rugby in Potch gekweek is.

Volgens Gimmies se rugbydirekteur, Regardt Kleingeld, is Wihan ongelooflik hardwerkend en dra dit juis tot sy sukses by.
“Hy is ’n goeie speler. Hy koop in by die skool se sisteem. Hy lei van voor af en doen die basiese goed reg. Vir hom gaan dit nie oor homself nie, maar oor die span. Hy pas in die sisteem wat SARU soek,” noem Kleingeld.



