Local newsNewsNews

Polisie-vlieënier het met arendsvlerke gedien

Kleynhans het onlangs sy laaste operasionele vlug as lid van die SAPD Lugvleuel onderneem.

Vir sommige mense is aftrede bloot die einde van ’n loopbaan. Vir adjudant-offisier Leon ‘Kleintjie’ Kleynhans is dit die afsluiting van ’n 38 jaar lange reis waarin diens aan die polisie, die lug en sy land ’n groot deel van sy lewe geword het.

Kleynhans het onlangs sy laaste operasionele vlug as lid van die SAPD Lugvleuel onderneem. ’n Besondere oomblik het plaasgevind tydens die Noordwes Jaarlikse Herdenkingsdiens, waar die Lugvleuel met ’n vliegvertoning hulde aan polisielede gebring het wat hul lewens in diens verloor het.

Vir hom was die vlug egter dubbel betekenisvol. Dit was nie net ’n eerbetoon aan sy gevalle kollegas nie, maar ook sy eie laaste operasionele vlug ná byna vier dekades in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

“Dit was nog altyd my grootste droom om deel van die Lugvleuel te wees,” vertel Kleynhans.

Sy liefde vir die polisie het egter lank voor die lug begin.

Kleynhans is in Vereeniging gebore en het daar grootgeword en skoolgegaan. Ná skool het hy sy loopbaan in die polisie begin en is hy op 4 Januarie 1989 na die Polisie Kollege in Pretoria.

Hy het daarna by Eenheid 19 begin werk en sy werk het hom deur die land geneem. Hy het later sy vrou, Linda, ontmoet en na die Vaalrand teruggekeer, waar hy by Eenheid 5 gewerk het, wat later as Eenheid 23 bekend geword het.

In 1996 het hy by die Gauteng Highway Patrol aangesluit, ’n verdere hoogtepunt in ’n loopbaan vol herinneringe. Hy was een van die eerste lede wat deel van dié span geword het.

Maar die lug het bly roep.

Leon tydens sy laaste vlug. Foto: Verskaf

In 2001 het Kleynhans vir ’n pos by die SAPD Lugvleuel aansoek gedoen. In 2002 het hy sy Airborne Law Enforcement Officer (ALEO)-kursus voltooi en op 2 Desember van dieselfde jaar by die Potchefstroom Lugvleuel begin.

Wat gevolg het, was ’n loopbaan wat hom meer as 4 000 vliegure as ALEO-bemanningslid besorg het.
“Jy sien goed uit die lug wat ander mense op die grond nie sien nie,” vertel hy.

Vir Kleynhans was sy eerste vlerke een van die grootste oomblikke van sy loopbaan. Dit was die dag waarop ’n jarelange droom uiteindelik werklikheid geword het.

Ná byna 38 jaar diens het hy nou besluit om vroeë pensioen te neem. Die besluit gaan egter nie net oor die einde van werk nie. Dit gaan oor die begin van ’n nuwe hoofstuk.

Vir baie jare was Kleynhans se werk een waarin hy dikwels van die huis af weg was. Sy loopbaan het hom oor die land laat reis en die afgelope drie jaar was hy, volgens hom, skaars by die huis.
Nou wil hy die tyd terugkry.

Hy en Linda, met wie hy al 33 jaar getroud is, sien daarna uit om meer tyd saam deur te bring. Hulle het twee kinders en vier kleinkinders, en aftrede beteken vir Kleynhans dat daar nou tyd sal wees vir die dinge wat maklik agterweë bly wanneer werk ’n mens se lewe oorheers.

Linda, ’n huisvrou, het hom deur al die jare ondersteun en sy drome help dra.

Sy lag wanneer sy vertel dat hy glo “onttrekkingsimptome” kry as hy te lank nie kan gaan visvang nie.
Visvang en houtwerk is van die dinge wat Kleynhans nou graag in sy vrye tyd wil geniet, eenvoudige dinge, maar waardevolle tyd saam met die mense vir wie hy lief is.

Die aanpassing by Potchefstroom was aanvanklik ook nie maklik vir die egpaar nie. Nadat hulle so lank gewoond was aan die ritme van hul vorige omgewing, was dit vir hulle vreemd om mense laat in die aand in die strate te sien loop.

Maar Potchefstroom het mettertyd huis geword.

Kleynhans kom uit ’n familie waar die polisie letterlik deel van die bloedlyn was. Sy pa was ’n polisieman, terwyl sy ma as tikster vir die polisie gewerk het. Hy is die jongste van vier kinders en al vier het uiteindelik hul loopbane in die polisie gehad. Hy is egter die een wat die langste aangehou het.

“Polisie is in sy bloed,” sê Linda.

Volgens haar was Kleynhans eenvoudig gebore om ’n polisieman te wees. Vir hom was dit nooit net ’n werk nie. Dit was ’n roeping.

Nou, ná 38 jaar se diens, meer as 4 000 vliegure as ALEO-bemanningslid en 24 jaar as ’n Airborne Law Enforcement Officer, is die tyd aangebreek om sy uniform vir ’n nuwe hoofstuk te verruil.

Die SAPD Lugvleuel het sy laaste operasionele vlug met besondere waardering herdenk en hom bedank vir sy diens.

“Dit was ’n groot voorreg en eer om saam met jou te werk en deel te wees van jou laaste vlug,” het die SAPD Lugvleuel gesê. “Geniet jou aftrede en mag God se genade en guns elke dag met jou wees. Ons salueer jou!”

Vir Kleynhans is dit dalk sy laaste operasionele vlug, maar nie die einde van sy storie nie.

Ná ’n leeftyd waarin hy die land van die grond én vanuit die lug gedien het, wag daar nou ’n ander soort avontuur, een waarin daar meer tyd is vir Linda, hul kinders en kleinkinders, vir houtwerk, visvang en sommer net om die lewe saam te geniet. Die vlerke mag dalk nou vir die laaste keer gevou word, maar die herinneringe van ’n leeftyd se diens sal altyd saam met hom vlieg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button