Local newsNewsNews

Boesman en Lena beeld die giftige aard van sosiale onreg uit

Een kerntema wat in Boesman en Lena briljant uitgebeeld word, is die konsep van mag.

Die realiteite van onreg en magsbeheer in apartheid-era Suid-Afrika word op treffende wyse in Boesman en Lena by Momentum Aardklop vertel.

Al speel hierdie drama binne ’n historiese konteks, met talle vorme van rassisme en sosiale kwessies wat prontuit uitgebeeld word, kan ’n mens steeds vereenselwig met die diep gebrokenheid, armoede en verdrukking wat steeds in Suid-Afrikaanse gemeenskappe heers.

Boesman en Lena is ’n Engelse verhoogstuk deur die ikoniese Athol Fugard wat vir die eerste keer in 1969 opgevoer is. Vinette Ebrahim het dit na Afrikaans vertaal en Christo Davids behartig die regie.

Een kerntema wat in Boesman en Lena briljant uitgebeeld word, is die konsep van mag.

Boesman (Brendon Daniels) en Lena (Veronique Jephtas) is nomadies van aard en reis van plek tot plek nadat hul woning deur die bulldozers platgeslaan is. Sodoende moet hulle telkens weer herbou.

 Lena en Boesman is ook hoogs disfunksionele karakters, en hierdie verhouding word doeltreffend uitgebeeld met Daniels en Jephtas wat mekaar fantasties komplementeer. Lena hou nie op praat en vrae vra nie, terwyl Boesman haar óf wil stilmaak, slaan óf verneder. Ten spyte hiervan is hulle steeds bymekaar, en dit is hierdie wrywing tussen saamstaan en skeiding wat hoogs eksplosief is. Nie net weens die omgewing van armoede nie, maar ook weens die magsbehepte dinamika binne hul verhouding.

Die vraag oor menslikheid in ’n onderdrukte bestel word ook treffend uitgebeeld, veral wanneer Outa (Tshamano Sebe) op die voorgrond tree. Hierdie Xhosa-sprekende man kreun en steun, praat skaars ’n woord en lyk op die dood af. Sebe se vertolking laat ’n mens se hart ruk. Lena ontferm haar oor hom, en dit sorg vir verdere vuurwerke aangesien Boesman hom nie as ’n gelyke sien nie en hom ironies genoeg dan ook onderdruk.

’n Tema wat kykers kan ontnugter, is die taalgebruik, veral die taboe-rassistiese taalgebruik en die tonele waar geslagsgeweld gesuggereer word. Al die karakters is beide psigies en fisies gehawend, en dit skep ’n baie swaar atmosfeer.

Boesman en Lena is ’n intense ervaring wat gehore weer na hul eie menslikheid en die behoefte aan gelykheid en respek laat kyk.

Met: Veronique Jephtas, Brendon Daniels en Tshamano Sebe
Teks: Athol Fugard, in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim
Regie: Christo Davids

Geen o14 (T/G/V)
70 minute

Kaartjies by SeatMe

2 Oktober: 13:30
3 Oktober: 13:30

R230 (vooraf)
R250 (by die deur)
R210 (Hartsvriende)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button